VIDEOS: Om gr.8 toe te gaan is gr.eight

Review gesels met 'n paar leerders om te hoor hoe hulle voel oor die eerste jaar in die hoërskool wat nou net oor die horison vir hulle loer.

POLOKWANE – Vir baie gr. 7-leerders lê die volgende stap in hul skoolloopbane nou voor.

Review gesels met ‘n paar leerders om te hoor hoe hulle voel oor die eerste jaar in die hoërskool wat nou net oor die horison vir hulle loer.

Die leerders was dit eens dat hulle met gemengde gevoelens uitsien na ‘n nuwe begin. Hulle is opgewonde, maar ook effens benoud, veral wanneer dit kom by die berugte “ontgroening” waarvan hulle so baie hoor. Party sê hulle dink die “ontgroening gaan groot pret wees, maar hulle wonder tog wat vir hulle voorlê.

Monéne Anker gaan by Hoërskool Pietersburg (PHS) aansluit en sien baie uit daarna.

“Ek dink die skool het ‘n baie goeie gees en dit lyk na ‘n lekker skool. Ek is bietjie benoud oor die ontgroening, maar ook nie regtig so baie nie. Ek dink nie dis regtig so erg nie. Dis net die onbekende wat my so ‘n bietjie benoud maak,” vertel sy.

Monéne beoog om eendag ‘n skoonheidsterapeut te word want sy hou daarvan om met mense te werk. Haar niggie is ook ‘n skoonheidsterapeut en dus weet sy wat die werk behels. Sy het nog nie besluit oor die vakke wat sy later gaan neem nie en gaan by die ATKV-Klein Kariba vakansieoord uitspan in Desember.

Chris van der Walt gaan ook by PHS se geledere aansluit en is net benoud dat sy dominee se dogter dalk die gr.12 wat sy “baas” is kan wees.

Hy is akademies aangelê en sy gunsteling vakke is wiskunde en natuurwetenskappe. Sy ideaal is om eendag motors te ontwerp, veral eksotiese sportmotors en spesiale 4×4’s.

Hy hou van die feit dat hy by PHS tegniese tekeninge as vak kan neem maar tog sy opsies kan oophou indien hy dalk op ‘n ander loopbaanrigting besluit.

Hy gaan dié vakansie hoofsaaklik tuisbly en dink met verlange terug na die laaste Kersvakansie toe sy gesin deur Botswana getoer het met hulle 4×4.

Henko Spies gaan volgende jaar by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé aansluit.

Hy is bietjie benoud maar gee glad nie om oor “ontgroening” nie en sê, “hulle wys jou om ‘n man te wees”. Hy het al baie gehoor wat die senior leerders tydens dié inisisieperiode doen.

Henko will eendag na skool siviele ingenieurswese studeer. Sy gesin gaan die vakansie in Namibië deurbring en gaan 4×4 op die duine ry en op Langstrand swem.

Liezl Schoeman sê sy het PHS gekies omdat dit ‘n goeie skool is. “Daar is baie goed om te doen op sport- en kultuurvlak.”

Sy sien baie uit na die nuwe jaar, maar is bietjie benoud dat sy moontlik sal verdwaal in die skool.

Sy will eendag ‘n argitek word, maar is nog nie 100% seker nie. Sy vaar goed in wiskunde en meen PHS het goeie wiskunde-onderwysers.

Liezl sien uit na die eerste paar weke en om baie nuwe dinge te leer in die hoërskool. Vir eers gaan sy egter goed uitrus by die ATKV-Klein Kariba vakansieoord en daarna by die Kruger Nasionale Park, waar sy hoop om skaars diersoorte soos die aardvark en ystervarke te sien.

Mengezi Gwebu is ‘n gr.7-leerder van Mitchell House. Hy gaan vir die eerste kwartaal by Mitchells House College inskakel en dan na St Albans College in Pretoria skuif.

Hy sê hy gaan die koshuislewe geniet en om, “nie ‘n ma te hê wat heeltyd oor my skouer loer nie”.

Hy is ‘n nuuskierige mens, wil meer uitvind van die hemelruim en wil eendag astronomie studeer. Hy hoop om eendag na Mars te kan reis, maar eers nadat hy ‘n robot soontoe gestuur het om te kyk of hy daar sal kan oorleef.

Khuno Phukuble gaan ook volgende jaar by Mitchell House College aansluit en sien baie uit daarna.

Dit sal nie vir hom nie so ‘n groot aanpassing wees nie, aangesien hy tot nou toe in Mitchell House was. Hy is ‘n voornemende Bafana Bafana-speler en will ook fotografie studeer.

Kgwadu Moloto gaan vir die eerste kwartaal by Mitchell House College inskakel, maar dan ook na St Albans College gaan om te leer om meer selfstandig te wees.

Hy gaan in die koshuis woon en sal moet leer dat sy ma nie daar is om sy goed wat hy by die huis vergeet het, agter hom aan te bring skooltoe nie.

St Albans lyk vir hom na ‘n goeie skool en hy sal elke vakansie huistoe kom, maar nie tydens die kwartaal nie.

Hy sê St Albans is baie soos Mitchell House, maar het baie meer leerders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version