Local NewsNews

Inwoners beïndruk met nuwe hoof

Westenburg inwoners is baie beïndruk met die nuwe verwikkelinge by Westenburg Sekondêre Skool.

POLOKWANE – Westenburg inwoners is baie beïndruk met die nuwe verwikkelinge by Westenburg Sekondêre Skool.

“Dit gaan goed by die skool. Daar is ‘n ontvangsdame by die ontvangs en sy is baie vriendelik en behulpsaam. Wanneer mense navrae doen, het sy al die antwoorde en wanneer sy nie seker is oor iets nie, maak sy ‘n plan om by die hoof of adjunkhoof die nodige inligting te kry,” vertel een van die inwoners.

‘n Ouer van ‘n leerder by die skool sê sy voel gerus oor haar kind se veiligheid by die skool.

“Die skoolhekke is gesluit tydens skoolure, so ek weet verseker my kind is by die skool en kan nie buite die skoolterrein rondloop nie,” sê die ouer.

Review het die skool besoek en gevind dat daar ‘n veiligheidshek is by die kantoor se ingang wat altyd gesluit is.

Besoekers word ingelaat wanneer hulle die klokkie by die veiligheidshek lui en die ontvangsdame die hek oopmaak.

“In die skool se hele bestaan was daar nog nooit ‘n veiligheidshek nie. Dit is vir my ‘n baie goeie veiligheidsplan en ek is dankbaar dat die nuwe waarnemende hoof die hek laat insit het. Dit verseker beter kontrole oor mense op die skool se perseel. Wanneer iemand die skool besoek, moet die persoon die klokkie lui by die veiligheidshek en wanneer die ontvangsdame oopmaak moet die besoe-ker aanmeld by ontvangs. Die besoeker word daar gehelp, so niemand is op die skoolterrein sonder toestemming of magtiging van die kantoor nie,” vertel ‘n oudleerder van skool.

Hy voeg by dat die vertoonkas met trofeë in die wagarea van die skoolkantoor vir hom ‘n pragtige toevoeging is.

“Nou kan besoekers sien by watter aktiwiteite die skool betrokke is en ook hoe die leerders akademies vorder. Dit sal ook die leerders motiveer om goed te presteer in akademie en sport omdat hulle toekennings in hierdie kas uitgestal kan word.

“Die beste nuus is dat daar weer atletiekaktiwiteite by die skool is. Ek het by ‘n onderwyser gehoor dat die leerders reeds voor die eksamens besig was met atletiekoefeninge en dat daar moontlik volgende jaar ‘n atletiekbyeenkoms sal wees. Dit sal die eerste atletiekbyeenkoms by die skool wees in ‘n baie lang tyd en ek sien uit daarna, want ek weet daar gaan sommer ‘n lekker vurige sportgees wees,” sê die oudleerder.

Hy noem dat alle onderwysers weer op hul poste is. “Sedert die waarnemende hoof, Jimmy Steele, by die skool aangesluit het, is daar baie mense wat belangstelling in die skool toon. Die skool het onlangs ‘n sken-king van nuwe meubels vir die hoof en adjunkhoof se kantoor gekry van Bonanza Furniture and Decor. Hulle het onlangs al die uitheemse bome van die skool se perseel verwyder en Retsini Kwekery het 30 inheemse bome geskenk om die bome wat verwyder is te vervang. Die skool het nog skenkings ontvang van plaaslike besighede en organisasies na die hoof se aanstelling,” sê hy.

Lede van die gemeenskap het die volgende boodskap aan Review gegee: Baie dankie aan die hoof wat hierdie positiewe veranderinge na ons skool gebring het. Ons waardeer dit regtig baie. Ons weet die toekoms hou net positiewe dinge in vir ons skool en kinders.

Related Articles

Back to top button