Hartlief verloor 20kg in tydperk van 5 maande

Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg, sê Francois Hartlief wat 20kg verloor het oor 'n tydperk van vyf maande.

POLOKWANE – Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg, sê Francois Hartlief wat 20kg verloor het oor ‘n tydperk van vyf maande.

Hartlief is ‘n welbekende inwoner van Westenburg. Hy het in Julie ‘n metaboliese eetplan, wat oor 14 dae strek, gevolg.

In die eerste week het Hartlief sewe kilogram verloor en in die tweede week vier kilogram.

“Ek is baie trots op myself, want in twee weke het ek 12kg verloor. Dit was my nuwejaarsvoorneme om gewig te verloor, maar ek het bly uitstel. My werk en besige skedule was my versko-ning, maar vroeg in Julie het ek besluit tot hier en nie verder nie.

“My vrou het my vertel van die metaboliese eetplan en ek het haar gevra om dit vir my te bring sodat ek dit kan probleer. Ek is geseën met die beste vrou ooit, want sy het saam met my op die eetplan gegaan om my te ondersteun,” vertel Hartlief.

Sy vrou, Mabel, het ses kilogram verloor in twee weke.

Hartlief sê nadat hy klaar was met die 14-dae eetplan het hy weer verkeerd begin eet en dadelik vier kilogram opgetel.

“Net dan en daar het ek besluit ek gaan nie al my harde werk in die water gooi nie. Ek het toe ‘n gesonde leefstyl begin leef. Ek draf Maandae tot Vrydae vyf kilometer per dag en Saterdae draf ek 10km op die loopband (treadmill).

“Ek het ook onlangs deelgeneem aan die 10km Nguni Grill Maraton. Dit was die eerste keer wat ek aan ‘n maraton deel geneem het en ek het dit baie geniet. Dis iets wat die ou Francois nooit sou doen nie,” vertel Hartlief.

Hartlief sê in die verlede het hy nie ontbyt of middagete geëet nie, hy het net in die aande geëet en dan het hy opgemaak vir die maaltye wat hy gemis het deur die dag.

“Nou eet ek drie maaltye per dag, in klein porsies. Ek kan nie meer so baie eet soos in die verlede nie, ek raak gou versadig. My lewe het baie verander. Ek het meer selfvertroue, meer energie en het ‘n nuwe lus vir die lewe.

“Ek wil graag baie dankie sê aan die Here wat my die krag en uithouvermoë gegee het om te volhard en steeds sterk staan met oefeninge en eetgewoontes. Baie dankie aan my vrou, familie en vriende wat my so baie ondersteun en bystaan en ook al my Facebook vriende. Ek het my dieetproses op Facebook ge-dokumenteer en mense het bemoedigende boodskappe vir my gestuur wat my gemotiveer het om aan te hou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version