Op 91 werk dié oom nog volstoom

Vir sommige mense is dit 'n stryd om elke oggend op te staan en werk toe te gaan, maar vir Danie Roux is dit net 'n plesier.

POLOKWANE – Vir sommige mense is dit ‘n stryd om elke oggend op te staan en werk toe te gaan, maar vir Danie Roux is dit net ‘n plesier.

Danie het verlede Donderdag sy 91ste verjaardag gevier en hy staan nog vier uit die vyf weeksoggende vroeg genoeg op om werk toe te gaan.

Hy mag egter nie meer bestuur nie en sy vrou, Ansie, speel chauffeur vir hom.

Danie is in 1923 in Germiston gebore waar hy ook grootgeword het.

Na skool het hy sy vakleerlingskap in pas- en draaiwerk voltooi en by ‘n myn gaan werk.

“Ek het later na Polokwane verhuis en het saam met my seun, Kobie, ‘n besigheid begin. Die winkel se naam was eers Honda Sentrum en later is die naam verander na KR Motorcycles wat vandag nog bestaan.”

In die oggende gaan Danie na sy winkel toe en in die middae hou hy homself besig in die motorhuis met houtwerk.

Hy maak items soos speelgoed, stoele en lampstaanders en het selfs al ‘n groot staanhorlosie gemaak. Tans is hy besig om ‘n hospitaalbed in ‘n tafel te omskep.

“Ek is baie lief vir houtwerk, maar dit raak moeilik. Ek kan nie meer so lank staan en werk nie. Ek kan ook nie sit en werk nie,” vertel hy.

Ansie is altyd aan haar man se sy en vertel hoe sy hom versorg het nadat hy in 1998 ‘n groot rugoperasie en in 2003 vier hartomleidings ondergaan het.

“Hy het wonderbaarlik herstel met die hulp van my gesonde kos en gereelde oefening,” vertel sy.

Danie en Ansie is geliefd in die gemeenskap en hul deur staan altyd oop vir kuiermense. In die kombuis is daar ook altyd ‘n varsgebakte eetdingetjie vir wanneer hulle onverwags gaste moet onthaal.

Exit mobile version