Boek verduidelik bipolariteit

Na 'n lang stryd met hierdie onvoorspelbare tipe depressie, het Hannelie Viviers besluit om 'n boek oor haar ervaringe te skryf sodat mense meer oor hierdie versteuring sal verstaan.

POLOKWANE – Die term bipolêre gemoedsversteuring word deesdae dikwels in die media genoem, maar nie almal weet wat hierdie tipe depressie behels nie.

Psigiaters het Hannelie Viviers in 1998 met bipolêre gemoedsversteuring 1 gediagnoseer.

Volgens die Bipolêre Gemoedsversteuring Ondersteuningsassosiasie is bipolêre gemoedsversteuring ‘n siekte-toestand wat gekenmerk word deur skommelinge in gemoedstoestande, vanaf uiterste depressie tot uiterste manie, episodes van euforiese geluk.

Na ‘n lang stryd met hierdie onvoorspelbare tipe depressie, het Hannelie besluit om ‘n boek oor haar ervaringe te skryf sodat mense meer oor hierdie versteu-ring sal verstaan.

“Ek was geweldig geskok toe ek met bipolêre gemoedsversteuring 1gediagnoseer is na ‘n maniese episode wat my in die hospitaal laat beland het,” het sy vertel.

Sy het egter nie toegelaat dat haar depressie haar onderkry of haar drome in die wiele ry nie.

Hannelie is al vir 20 jaar lank gelukkig getroud met Cobus en het twee kinders in hul tienerjare.

Alhoewel sy nie direk na skool kon gaan studeer nie, het sy later ‘n graad in rekeningkunde deur Unisa behaal en is sy nou ‘n ge-kwalifiseerde rekenmeester.

Sy het die uitmergelende Comrades Maraton verskeie kere voltooi.

Hannelie verduidelik bipolêre gemoedsversteuring in haar boek deur na haar eie ervaringe te verwys.

“Wanneer ek manies is, dink ek ek is in die hemel. Ek verbeel my ek is God.

“Die depressie-episodes is vir my aaklig. Ek begin voel ek is ‘n las vir my gesin. Ek is in ‘n donker put of tonnel en dan slaap ek baie min. Wanneer ek depressief is, is ek ook geneig om in my motor te klim en weg te ry; weg van die familie vir wie ek voel ek so ‘n groot las is,” verduidelik sy.

Sy het vertel hoe sy selfs al die pad Port Elizabeth toe gery en daar probeer selfmoord pleeg het.

“Mense het my gekry en na ‘n hospitaal geneem.

“‘n Ander keer het my man sy selfoon by die huis vergeet en op my afgekom nadat ek pille gedrink het. Ek het al vyf keer probeer selfmoord pleeg.”

Vier jaar gelede, in 2010, het Hannelie begin om op dokters se aanbeveling ‘n boek te skryf en vandag is sy trots om te sê sy het die boek, Reistog van Genade,voltooi.

“Die boek vertel van my lewe wat vol genade is.”

Ook het sy gedigte op www.woes.co.za gepubliseer.

“Die wete dat my boek en gedigte ander mense ondersteun en help, het my gemotiveer om meer te skryf.

“Die laaste episode waar ek manies of depressief was, was twee jaar gelede. Ek sien nog elke ses maande my psigiater en omring my met ‘n netwerk van positiewe mense. My familie ondersteun my in alles,” vertel sy.

Hannelie se boek is beskikbaar by www.kalahari.com of www.wantitall.co.za.

Exit mobile version