TLU SA: grond hoort in privaatbesit

GROND in die staat se hande, is 'n ongesonde praktyk wat die land en landbou net skade berokken. Só het Louis Meintjes, TLU SA se president, gereageer op die bekendmaking van die verwaarlosing op 'n plaas naby Nigel wat deur die plaaslike owerheid bestuur word.

MOKOPANE – GROND in die staat se hande, is ‘n ongesonde praktyk wat die land en landbou net skade berokken.

Só het Louis Meintjes, TLU SA se president, gereageer op die bekendmaking van die verwaarlosing op ‘n plaas naby Nigel wat deur die plaaslike owerheid bestuur word.

“Skynbaar het talle varke en hoenders van dors gevrek terwyl plante in groentetonnels ook van droogte gevrek het. Daarbenewens het dit aan die lig gekom dat die Mamahlola-plaas naby Tzaneen, wat 10 jaar gelede aan die Banareng Ba-Ga-Letsoalo-gemeenskap gegee is en sedertdien onder administrasie van die regering geplaas is, nie die plaaswer-kers kan betaal nie.”

Meintjies sê in ‘n verklaring dit is ‘n bekende feit dat grond wat in private besit is oor die algemeen beter bestuur word aangesien dit as deel van ‘n sake-onderneming beskou word wat winsgewend moet wees.

“Waar die staat grond bestuur, moet ‘n amptenaar met geen wesenlike of persoonlike belang die bestuur behartig. Die wins of verlies is nie vir sy eie rekening nie met die gevolg dat dit hom nie werklik raak nie.

“Waar die minister van finansies in sy tussentydse begroting aangekondig het dat sekere staatsbates gedeeltelik verkoop gaan word om die staat uit sy finansiële verknorsing te help, is dit onder daardie omstandighede juis nou wenslik om ook staatsgrond te verkoop sodat daar kommersieël geboer kan word, en nie verwaarloos word soos in die Spaarwater- en Tzaneen-gevalle, waar boonop R15 miljoen se belastinggeld gepomp is (by Spaarwater) sonder ‘n enkele sent opbrengs,” sê Meintjes.

Boonop is dit ook so dat heelwat grond wat as gevolg van die restitusieproses van eienaarskap verwissel het, steeds in naam van die Republiek van Suid-Afrika geregistreer is.

Daardie grond se titelaktes moet aan die nuwe begunstigdes oorgedra word sodat hulle die geleentheid kan kry om vol-uit kommersieël te produseer. Sonder eiendomsreg op daardie grond, sal die begunstigdes daarvan nooit ten volle suksesvol kan boer nie, aangesien hulle nie toegang tot kapitaal het nie, sê Meintjes.

Hy het daarop gewys dat die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, terselfdertyd kennis moet neem.

“Hier is nie ‘n persepsie van onvermoë nie, hier is die werklike onvermoë, en in dié geval onvermoë van ‘n staatsinstelling.”

Exit mobile version