Gesin verloor alles in brand

'n Gesin van ses het al hul besittings verloor nadat hul woonstel in Adonisstraat in Sterpark afgebrand het Saterdagoggend.

POLOKWANE – ‘n Gesin van ses het al hul besittings verloor nadat hul woonstel in Adonisstraat in Sterpark afgebrand het Saterdagoggend.

Die ouerpaar en hul vier kinders het die drieslaapkamerwoonstel gehuur by Sophia Eras-mus en haar man Hendrik.

Sophia het vertel die vrou en haar kinders, tussen die ouderdomme van een- en vyf-jaar-oud, was alleen by die woonstel toe die brand uitgebreek het.

“Haar man loop elke oggend 04:30 by die huis, want hy werk op die myn.

“Die vrou en haar baba het glo geslaap en die ander kinders het in een van die ander kamers gespeel, blykbaar met ‘n aansteker.

“Een van die matrasse het aan die brand geraak en dis hoe die brand na bewering begin het,” het sy aan Review gesê.

Die woonstel grens aan die Erasmus-woning. Die Erasmus-egpaar se slaapkamer en die woonstel deel ‘n muur.

“Ons bed staan teen die muur wat die woonstel van ons huis skei. Ek is net dankbaar ons huis het nie ook afgebrand nie, want die muur was vuurwarm.

“Dit was so net na 06:00 toe die hekklokkie gelui het. Ek en my man het nog geslaap. My man het nog gesê hy wonder wie kom soek so vroeg werk. Toe hy by die hek kom, was dit ons buurman wat kom sê het dat die woonstel brand,” het Sophia vertel.

“Ek het vensters hoor breek en agter die huis gaan kyk wat aangaan. Toe sien ek die vlamme en rook.”

Die brandweer was gou op die toneel om die brand te blus, maar alles in die woonstel is tot niet. Net die buitemure staan nog.

Erasmus het bevestig dat daar niemand beserings opgedoen het tydens die brand nie.

“Die vrou en haar kinders is betyds uit die woonstel. Hulle is hospitaal toe vir behandeling na rookinaseming, maar het geen ander beserings opgedoen nie. Die gemeenskap is so goed. Mense het klere en speelgoed gebring vir die gesin. Ons weet nie waar hulle nou is nie, ons het gehoor hulle bly by ‘n plaaslike oornagplek. Hulle selfone is ook afgeskakel, so ons het geen kontak met hulle nie.”

Review het die gesin probeer kontak vir kommentaar, maar hul selfone was afgeskakel.

AO Lesiba Ramoshaba, Polokwane polisiewoordvoerder, het gesê dat geen saak van brandstigting geopen is nie.

Brandbestryders is besig om die laaste smeulende kole te blus in ‘n woonstel in Adonisstraat, Sterpark nadat die woonstel afgebrand het Saterdagoggend. Foto: Verskaf
Exit mobile version