Louis Trichardt se rasistiese toilette: Die waarheid

Verlede week het 'n storm losgebars oor die beweerde gesegregreerde badkamers in die Vleissentraal-gebou in Louis Trichardt - die waarheid

LOUIS TRICHARDT – Verlede week het ‘n storm losgebars oor die beweerde gesegregreerde badkamers in die Vleissentraal-gebou in Louis Trichardt.

Volgens mediaberigte beweer die huurders van hierdie kantoorgebou dat hulle die gebou se toilette volgens rasgroepe moet gebruik. Die klaers het beweer dat die toilette gesluit word en dat hulle eers die sleutel by die gebou se opsigter moet kry voordat hulle hierdie fasiliteite kan gebruik.

Die DA in Limpopo het op 5 November ‘n persverklaring uitgereik waarin die party gesê het dat hulle onder geen omstandighede rassisme en diskriminasie wanneer dit kom by die gebruik van toilette, soos by die Vleissentraal-gebou goedkeur nie.

Die opsigter van hierdie gebou, Rina van Schalkwyk, het aan Review vertel dat geen huurder nog ooit vir die sleutels vir die toilette gevra het nie.

“Daar het wel verlede week ‘n man hier ingestap wat baie agressief voorgekom het. Hy het daarop aangedring om die vrouebadkamer te gebruik. Ek het vir hom gevra of hy in die gebou werk en hy het gesê dat hy daardie dag in een van die kantore in die gebou begin werk het. Ek het vir hom die mansbadkamer se sleutel gegee en verduidelik waar dit is, maar hy het bly wys na die vrouebadkamer en aangedring daarop om hierdie badkamer te gebruik,” het sy vertel.

“Ek kom goed oor die weg met al ons huurders en ons het nog altyd lekker saamgewerk. Niemand het nog ooit gevra of hulle ‘n kopie van enige van die badkamers se sleutels kon sny nie, maar as hulle gevra het, sou ek ingestel het.”

Die eienaars van die gebou, Willie en Bennie van der Merwe is verslae oor die berigte omdat hulle juis onlangs die badkamers opgradeer het om in die huurders se behoeftes te voorsien.

“Ons het R20 000 betaal om nuwe wasbakke en toilette in te sit en om die vertrekke te teël. Voorheen het ons baie probleme gehad met dreine wat geblok was en ander probleme. Ons het ‘n vergadering met ons huurders gehad en die terugvoer wat hulle gegee het, was dat die publiek van die straat af kom om die toilette te gebruik en die plek dan verniel. Daarom het ons besluit om traliehekke voor die deure te sit sodat net die gebou se huurders die toilette kan gebruik,” het Bennie verduidelik.

Hy het ook gesê daar is geen aanwysingsborde in die gebou wat aandui dat sekere badkamers slegs vir sekere rasgroepe is nie.

Van Schalkwyk het ook ‘n saak by die polisie oopgemaak nadat sy twee dreig-SMS’e gekry het.

Die SMS’e lees:

I’m a no-nonsense Chief Justice of EFF Aubrey Setlhalogile in Brits. Should I hear toilet discrimination in the media again about Vleissentraal, I’ll f*** u up.”
“Black & White people must f***** use the same f***** toilets ok, bitch? U want the socalled Vleissentraal up in flames? Then carry on with that stupid tendency.
Van Schalkwyk het gesê sy weet nie waar die storie vandaan kom dat ‘n wit man alleenreg tot een van die toilette in die gebou het nie.
“Hier werk geen wit mans in die gebou nie. Die enigste wit mans wat nou en dan oor middagetes hier is, is my eie man en seun. Hulle gebruik enige beskikbare toilette.”
Een van die kantoorgebou se huurders, Happy Itanimugobi, bestuur sy inligtingstegnologiesaak vanuit die gebou. Hy het bevestig dat daar wel probleme oor die gebruik van die badkamers was.
“Ek is nou twee maande hier en kort nadat ek hier ingetrek het, het ek gehoor van die probleem van die badkamers. Ek het nie besef dis so ernstig dat die hele Suid-Afrika daarvan moet weet nie. Ek persoonlik voel dis ‘n probleem wat intern uitgesorteer moes word. Die eienaars was nog altyd net behulpsaam vandat ek hier ingetrek het. En ek en die opsigter praat gereeld en as ek ‘n probleem het weet ek hulle sal help,” het hy gesê.
Nog een van die huurders, ‘n swart vrou wat graag annoniem wil bly het verduidelik dat sy altyd die toilette aan die een kant van die gebou gebruik het, maar van die ander huurders het gekla dat sy die toilette blok deur skottelgoedwater daarin te gooi.
“Ek het, nadat die huurders gekla het dat ek die toilette verstop, die ander badkamer begin gebruik wat Van Schalkwyk ook gebruik en sy het nie een keer vir my gesê ek mag nie die badkamer gebruik nie. Ek het al verskeie swart mense in die sogenoemde ‘wit badkamer’ gesien en ek het nog nooit gesien dat Van Schalkwyk daaroor kla nie,” het sy verduidelik.

White toilets and black toilets

Exit mobile version