Groete aan oom Sweet Sixties

DIT is met groot hartseer dat die familie van Attie van der Merwe (67) van hom afskeid neem.

DIT is met groot hartseer dat die familie van Attie van der Merwe (67) van hom afskeid neem. Hy is Woensdagoggend deur sy familie in sy huis gekry, en daar word vermoed dat hy gedurende die nag in sy slaap oorlede is. Sy dogter, Retha Labuschagne, vertel dat hulle hom baie gaan mis.

“Daar is so baie mense wat hom geken het en sal onthou as die oom van die roomyswinkel wat altyd ‘n staaltjie vertel het. Daar is nie woorde om te beskryf hoe leeg alles skielik voel sonder hom nie. Hy was my pa, my vennoot in die besigheid en my beste vriend,” vertel Retha.

Dit is nie die eerste geliefde wat die gesin dié jaar aan die dood afstaan nie. In Augustus is een van Attie se kleinseuns oorlede. Retha vertel dat hy nooit daaroor gekom het nie. “Hy het so daaroor getreur en nou is hulle saam,” vertel sy.

Die familiesaak, Sweet 60’s by die Platinum Park Winkelsentrum was Attie se idee, vertel Retha.

“Hy het altyd vertel hoe lief hy was vir die 60’s. Dit was vir hom die beste jare en hy wou graag die goeie jare met die mense van Polokwane deel. Sy ander groot liefde was sy rugbyspan die Bou Bulle. Hy laat sy twee dogters Retha en Hanalie en vier kleinkinders agter. Hy word Maandag 12:00 vanuit die Agapé Kerk in Kiddslaan begrawe. Die familie bedank almal wat hulle bygestaan het.

Exit mobile version