1964-matrieks maak beursies oop

DIE 1964-matrieks van die Hoërskool Piet Potgieter het onlangs bymekaar gekom vir 'n kuier en fees wat nog lank onthou gaan word.

DIE 1964-matrieks van die Hoërskool Piet Potgieter het onlangs bymekaar gekom vir ‘n kuier en fees wat nog lank onthou gaan word.

Dit was die vierde reünie wat dié groep Pottiemaats laat laertrek het, maar hierdie keer was anders en baie spesiaal, want dit was natuurlik die groot 50!

Uit alle uithoeke van die land het die oud-Pottie matriek van 1964 opgeruk Pretoria toe om saam te kuier. Vanjaar het die groep ‘n volle vyftig jaar gelede hulle skoolbaadjies vir oulaas gedra.

Dié spesiale samekoms was by die pragtige lapa van Laerskool Rachel de Beer in Pretoria-Noord gehou waar daar heeldag lank feesgevier, gekuier en foto’s geneem is. Die kuier- en eettafels was heel gepas in HPP se bekende blou-en-wit gedek, afgerond met vrolike bosse oranje Clivias om die skoolkleure te onthou.

‘n Heerlike spitbraai is vir middagete aangebied en ‘n smaaklike aandete uit eie geledere voorgesit om die feesgees tot laataand hoog te hou. Soos die gebruik is, is die skoollied gesing en ‘n kers aangesteek om die 17 maats te eer wat reeds oorlede is. Nadat daar ‘n heildronk op die matrieks van 1964 gedrink is, het ‘n paar storievertellers gesorg vir skreeusnaakse onthou-oomblikke uit vervloë se dae.

Die groot kuier is die volgende dag voortgesit by die Austin Roberts-voëlpark waar ‘n kleiner groepie saam ontbyt geniet en gekuier het tot die son se oë begin skrefies maak het. Dis ook die gebruik onder die ’64-Pottiematrieks om alle surplusfondse ná ‘n reünie aan Kansa te skenk.

Dit het meegebring dat hierdie groep reeds R10 000 die afgelope vyf jaar aan Kansa oorbetaal het.

Dit groep is dit eens dit was ‘n onbeskryflike voorreg om soveel oud-pêlle bymekaar te kry vir ‘n onvergeetlike kuier. Hou maar die matrieks van ’64 dop – daar word nog groot feeste vorentoe beplan, sê Kallie en Annie (néé De Beer) Saayman, albei oudleerlinge van die 1964-matriekgroep.

Exit mobile version