Ronny (80) is steeds ‘n regsman van formaat

Ronny Pratt, bekende prokureur en regsgeleerde van die stad het Maandag sy 80ste verjaardag gevier.

POLOKWANE – Ronny Pratt, bekende prokureur en regsgeleerde van die stad het Maandag sy 80ste verjaardag gevier.

Sy kollegas by Pratt Luyt en De Lange Prokureurs beskryf Ronny as uniek, ‘n eerlike mens en een van die mees spesiale mense op aarde.

Ondanks sy ouderdom, klok Ronny steeds elke dag by sy kantoor in waar hy sy dagtaak met entoesiasme aanpak.

Sy sekretaresse, Lizette Prins, sê Ronny is ‘n inspirasie vir haar en die ander mense wat by hierdie praktyk werk.

“Ek dink hy is seker die oudste praktiserende prokureur in Polokwane, indien nie in Suid-Afrika nie. Hy doen boedels en sy sodoku-stokperdjie hou hom jonk,” sê sy.

Ronny se vennoot, Leon de Lange, praat met lof van sy vennoot en vriend. “Hy het my lewe verryk. Sonder hom sou my lewe veel armer gewees het,” sê Leon.

Ronny vertel hy het die raadseksamen in 1957 geslaag en op 20 Maart 1958 is hy toegelaat tot die prokureursorde. As gebore Vrystater het hy eers in die Vrystaat gepraktiseer, maar in 1972 na die destydse Pietersburg verhuis waar hy saam met sy broer, Dudley, ‘n prokureurspraktyk begin het.

“Destyds was hier 11 regsfirmas en sowat 35 prokureurs en ons almal het mekaar geken. Vandag is hier seker meer as 200 firmas in die stad. Dit was ‘n interessante tydperk en ek was baie gelukkig in Polokwane. Hier was interessante mense en goeie regskundige dienste. Ons het goed saamgewerk met die landdroskantoor en die polisie, die personeel daar was eersteklas. Ons was gelukkig om saam met hulle te kon werk. Ek het hulle harde werk altyd hoog op prys gestel,” vertel Ronny.

Die afgelope 15 jaar doen Ronny nie meer hofwerk nie.

Hy is lief vir sport en speel graag gholf. Hy is ‘n erelid van die Polokwane Gholfklub, waar hy sedert 1974 al ‘n lid is.

Hy sien ook uit daarna om vroeg in November saam met vriende te gaan rugby kyk in Ierland en Engeland. Verder kyk hy graag sport, veral ook krieket, op TV.

“Ek het baie oorsee gereis agter rugby aan,” vertel hy.

Hy vertel van die gelukkie wat hom onlangs getref het. Hy het ‘n motor in ‘n landswye koerantkompetisie gewen, ‘n Chevrolet Spark.

“Ek kon dit nie glo nie en het gedink iemand trek my been. Ek het dat my vrou die nommer op my selfoon bel om seker te maak. Dit was ‘n vroeë verjaarsdaggeskenk.”

Ronny is lief vir die buitelewe en die natuur en het dikwels in Botswana en die Kruger Nasionale Park vakansie gehou.

“Dit was goeie dae. Die leeus en olifante het sommer teen jou tent verbygeloop. Ek ken Botswana soos die palm van my hand.”

Vier jaar gelede het Ronny ‘n beroerte gehad en kort daarna ‘n opehartoperasie.

“Ek is dankbaar ek het dit oorkom, dankbaar dat ek nog kan werk. Ek geniet my werk en kan myself nie indink dat ek by die huis moet sit met niks om my besig te hou nie. Ek sal oud word,” sê hy.

Van Ronny se vyf kinders, almal seuns, het een ‘n loopbaan in die regte gevolg en hy is ‘n landdros in Harry Smith. Die ander seuns is almal sakemanne. Self het Ronny vir 11 jaar deeltyds met Bonsmara-beeste geboer en hy sê dit was vir hom die lekkerste tyd in sy lewe.

Die kosbaarste verjaardaggeskenk het hy van sy kleinkinders in Polokwane ontvang.

Henru en Nicola Pratt het vir hulle oupa ‘n gedig voorgedra tydens sy verjaardagtee en ‘n onthouboek met foto’s aan hom oorhandig. Vir sy kinders, by monde van sy seun Raymond, was hy ‘n “wonderlike pa en ‘n fantastiese voorbeeld”.

Ronny se dankie het uit sy hart gekom.

Vir sy vrou Francis het hy dankie gesê vir 40 jaar se getroude lewe en haar bystand.

Hy het al sy kollegas een vir een bedank asook sy vorige sekretaresse Tokkie, wat hom gebel het, en al sy kliënte en vriende.

Exit mobile version