Lenize stadig maar seker weer op die been

Lenize Potgieter, bekende Suid-Afrikaanse netbal- en ringtennisspeler is uit die hospitaal ontslaan en sterk tans aan by die huis.

POLOKWANE – Lenize Potgieter, bekende Suid-Afrikaanse netbal- en ringtennisspeler is uit die hospitaal ontslaan en sterk tans aan by die huis.

Sy het ‘n ernstige kop-aan-kop-botsing op die N1-noord naby die Hammanskraal-afrit oorleef op 11 Oktober.

Die 20-jarige oud-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) en student van die Universiteit van Pretoria was op pad na Die Oog Vakansieoord om haar familie daar te ontmoet toe die ongeluk gebeur het.

Volgens ‘n ooggetuie het een van Potgieter se motorbande gebars en haar voertuig het na bewering regs geskiet, oor die middelman, reg voor die aankomende verkeer in.

Haar voertuig het gebots met ‘n ander voertuig.

Die insittendes van die ander voertuig was ‘n gesin van Mokopane. Die man, sy vrou en hul vyfjarige dogter is in die ongeluk oorlede. Hul eenjarige seun het die ongeluk oorleef.

Potgieter was baie emosioneel en wou nie veel praat oor die ongeluk en die familie wat gesterf het in die ongeluk nie. Sy self het geen permanente beserings opgedoen nie.

“Dit gaan baie beter met my. Ek is weer aktief en draf baie stadig vir so 30 minute elke dag.

“My linkervoet is geswel en so bietjie seer as ek hardloop, maar die pyn is draagbaar. My knieë is ook nog geswel en my regterknie buig moeilik, maar ek kan beweeg.

“Eers kon ek nie op my sy lê nie, want die pyn was te erg, maar nou kan ek.

“Ek kan nog nie op my maag lê nie, want dis nog seer as gevolg van die swelling op my bekken.

“Ek gaan volgende week vir my laaste sielkunde sessie en ek het nog ‘n paar sessies met my fisioterapeut oor,” sê Potgieter.

Potgieter is gekies vir die Protea Fast Five-span wat in Nieu-Seeland deelgeneem het, maar weens die ongeluk kon sy nie saamgaan nie.

“Dit het my eers nie gepla nie, maar nou is ek baie hartseer daaroor. My sportseisoen is klaar vir die jaar en ek gaan nou al my aandag op die eksamen vestig.

“Ek kom einde November huis toe en dan gaan ek Desember saam met my familie see toe,” sê Potgieter.


SA-netbalster in gru-ongeluk wat 3 eis

Lenize spog in groen en goud

Gru-ongeluk eis 3

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version