Local NewsNews

‘n Finale liefdesblyk aan Annatjie Nel

Dit is met groot hartseer dat die gemeenskap van Polokwane afskeid neem van Annatjie Nel, die vrou wat diep spore in baie mense se harte getrap het.

ONS lewens op aarde is soos blomme in God se tuin.

Net soos ons tuine, wil God ook net die mooiste tuin hê en een van Sy mooiste blomme pronk nou in Sy tuin.

Dit is met groot hartseer dat die gemeenskap van Polokwane afskeid neem van Annatjie Nel, die vrou wat diep spore in baie mense se harte getrap het.

Annatjie is Dinsdagaand in die ouderdom van 60 jaar oorlede. Sy was terminaal siek.

Liefdevol, gelowig, vriendelik en saggeaard is woorde wat haar beskryf.

“Sy het altyd gegee sonder verwagting. As mens sien hoe-veel mense gebel en SMS’e gestuur het, besef mense hoeveel lewens sy geraak het,” is hoe haar familie haar sal onthou.

“Geen woorde bestaan om die onbeskryflike hartseer in ons harte te beskryf nie.”

Vir 41 jaar was sy haar man, Freek, se steunpilaar. Hy was die persoon met wie sy haar geheime gedeel het. Hulle lewens het vertel van liefde, omgee en vertroue.

Vir haar kinders, Freek en Annatjie, was sy ‘n oor wat geluister het, ‘n skouer wat die trane afgedroog het en ‘n hart wat oorgeloop het van liefde.

“Haar gesin was haar alles. Wat ‘n voorreg om ‘n mamma soos myne te kon hê, die mooiste mooi en die diepste liefde. ‘n Pragtige voorbeeld van vrouwees, mawees en liefwees. Ek dra ma by my vir altyd. Die hemel is ‘n engel ryker,” lui ‘n boodskap van haar dogter.

Daar het absoluut niks vir haar hande verkeerd gestaan nie. Sy het altyd gehelp waar sy kon. Vir 24 jaar was sy die N.G. Kerk Bendorpark se kantoor-tannie.

Mark Markgraaf, wat saam met haar gewerk het, sal haar onthou as ‘n elegante, statige vrou. “Haar waardigheid was van die hoogste gehalte. Sy het ander mense altyd met respek behandel,” vertel hy.

‘n Vrou, ma, ouma en vriendin wat ander altyd eerste gestel het. Haar plekkie is nou leeg, maar die herinneringe wat sy nalaat sal almal na aan haar vir altyd koester.

“Dit is voorwaar ‘n hartseer tyding. Ons gebede is dat ons Hemelse Vader julle sal vertroos in hierdie tyd en dat Hy aan julle die berusting sal gee wat hierdie rou wond sal genees en dat julle deurgaans van Sy troosvolle nabyheid bewus sal wees. Ons bid dat Hy julle die krag en genade sal skenk om voort te gaan,” was die boodskap van die personeel by Data Inn. Freek is die eienaar van Data Inn.

Haar gedenkdiens word Saterdagoggend om 11:00 by die N.G. Kerk Bendorpark gehou.

Die familie wil graag almal bedank vir hulle oproepe, gebede. SMS’e en omgee.

Annatjie laat haar man, kinders en kleinkinders agter.

Related Articles

Back to top button