Lig-Weg wil nie net konserte hou nie maar mense werklik bereik

Die gospel-groep LiG-WeG het op Sondag, 19 Oktober in die stad opgetree en stigterslid, Gert Smit, het met Review gesels.

POLOKWANE – Die gospel-groep LiG-WeG het op Sondag, 19 Oktober in die stad opgetree en stigterslid, Gert Smit, het met Review gesels.

LiG-WeG bestaan al vir twee jaar lank. “Ons eerste album is in September 2013 vrygestel, en ek is tans besig om aan die volgende album te werk wat in Februarie 2015 vrygestel sal word,” vertel Gert.

Gert sê nadat sy hart en lewe weer op die regte pad geplaas is, het hy met evangeliese projekte begin.

“In 2012 het ek ‘n kontrak by Brettian Productions gekry en ons het aan die werk gespring met LiG-WeG.

“Ek het ook besluit om nie onder my eie naam op te tree nie, om sodoende die kollig van myself af te haal. Ddit gaan vir my oor bediening, nie oor ‘n blote optrede nie.”

Gert vertel hy maak gebruik van sessiemusikante wat ook baie goeie vriende is; mense wat die hart en visie van LiG-WeG deel, om te evangeliseer eerder as om optredes te hou.

“Dit is hoekom dit so lekker is om ouens aan boord te hê met wie ek ‘n verhouding het, wat saam die groter prentjie van LiG-WeG sien en verstaan,” verduidelik hy.

Hou Moed is sy gunsteling liedjie want dit spreek op verskillende vlakke met elke lid in die groep.

“LiG-WeG se naam is maar ‘n persoonlike besluit wat ek in my lewe gemaak het.

Gert Smit een van die lede van LiG-WeG.

“Ek was lank besig met duistere dinge en het met verskeie verslawings geworstel. Maar die dag toe my hart oorgegee is, het ek begin lig sien en dis hoe ek my pad stap, in die lig,” vertel Gert.

LiG-WeG is ‘n rock-kontemporêre mu-siekgroep en Gert sê hy sukkel maar om na boeremusiek te luister, maar dat hy verder na ‘n verskeidenheid musiek luister.

“Ek het ‘n doel vir myself gestel om te probeer aan wêreld wys dat gospel-musiek, veral in Afrikaans, nie altyd die underdog hoef te wees nie. Dis musiek vir ‘n Koning, so dit móét eersteklas wees.”

Behalwe vir sy musiek het Gert ‘n paar jaar gelede ‘n digbundel ook gepubliseer en hy glo hy is ‘n topbraaier.

Die snaaksste ding wat al met Gert gebeur het, was toe sy mikrofoon hom geskok het.

“Ek sou van die musiek dalk anders wou doen noudat ek weer daarna luister.

“Maar sodra iemand na my toe kom en vir my kom sê wat daardie spesifieke lied vir hulle beteken het, besef ek net weer dis nie in my hande nie. Ek is bloot net die instrument.”

Op die vraag oor wat hulle gemotiveerd hou antwoord Gert, “ek dink as dit geld was sou ek lankal opgegee het. Maar niks kan die belewenis koop van ‘n gehoor wat hulself verloor in aanbidding nie.

“Soms is dit moeilik op die verhoog want daar is maar altyd iets wat dit uitdagend maak.

“Maar sodra jy mense sien wat in trane staan en ‘n oorgawe maak, of iemand wat na jou toe kom en jou vertel hoe hulle God ervaar het tydens ons musiek, dan gee dit jou weer krag en ywer om aan te gaan.”

Alhoewel daar twee ouens is wat Gert se inspirasie is, is sy grootste invloed beslis Jesus Christus.

“Die liefde wat Hy wys, daagliks, inspireer my om harder werk, weer op te staan, en weer te probeer.”

Exit mobile version