Local NewsNews

Kommer oor vlakke van vetsug in Suid-Afrika

Van 15 tot 19 Oktober het die departement van gesondheid Nasionale Vetsugweek aangebied in 'n poging om bewusmaking te skep oor die gevare van vetsug.

POLOKWANE – Van 15 tot 19 Oktober het die departement van gesondheid Nasionale Vetsugweek aangebied in ‘n poging om bewusmaking te skep oor die gevare van vetsug.

Review het met plaaslike dieetkundige, Lizel Marais, gesels oor die onderwerp.

Lizel het verduidelik dat vetsug (obesity) ‘n ernstige gesondheidsprobleem is wat miljoene mens in Suid-Afrika raak.

“Statistieke toon dat vetsugvlakke in Suid-Afrika gevaarlik hoog is.

“Sowat 70% van Suid-Afrikaanse vroue en 40% van Suid-Afrikaanse mans is oorgewig.

“Uit die 70% van vroue wat oorgewig is, is 38% vetsugtig,” het sy gesê.

Vetsug beskryf die toestand wanneer iemand só oorgewig is, dat dit lewensgevaarlike mediese toestande soos diabetes en hoë bloeddruk tot gevolg het.

“Vetsug verhoog die risiko vir metaboliese sindrome en kanker, word verbind met tipe-2 diabetes en kan lei tot hartkwale en ander ongesteldhede.

“Iemand wat 30% oorgewig is, loop ‘n 50 tot 70% hoër risiko om ‘n hartaanval te kry,” het Lizel gesê.

“Mense wat hul aanbevole massa met 20% of meer oorskry, het ook ‘n verhoogde kans op suikersiekte, ‘n hartkwaal of hoë cholesterol en behoort te verslank.”

Lizel het verduidelik dat mense in vandag se gejaagde lewe meer geneig is om hul te wend na kitskos en klaarbereide-etes.

Sy het gesê mense eet min-der groente en vrugte en die porsies wat hulle eet raak groter.

Sy het ook gevind dat mense minder water drink en minder veselryke kosse eet.

Al hierdie faktore het ‘n in-vloed op die vetsugepidemie wat tans in Suid-Afrika heers.

Lizel het die volgende gesonde eetgewoontes aanbeveel:

• Pas porsiekontrole toe, eet kleiner porsies;

• Skakel alle verfynde koolhi-drate soos witmeelprodukte uit;

• Beperk jou inname van suikers;

• Eet meet hoëveselkoolhidrate soos volgraanprodukte;

• Eet meer groente en vrugte;

• Eet maer proteïene soos hoender sonder vel, maer maalvleis en biefstuk sonder vet;

• Skakel alle geprosesseerde kos uit, en

• Eet meer vis soos salm en sardientjies.

Volgens Lizel is die oorsake van vetsug uiteenlopend en sluit genetiese, fisiologiese en psigologiese faktore in.

“Ongeag die oorsaak, oorgewig mense se energie-inname is groter as hul energie-verbruik.”

Sy het verduidelik dat mens die ligaamsmassa-indeks kan gebruik om te bepaal of jy oorgewig of vetsugtig is.

Deel jou gewig in kilogramme deur jou lengte in meter. Deel dan daardie getal weer deur jou hoogte om jou liggaamsmassa-indeks te bepaal. Indien jy byvoorbeeld 80kg weeg en 1,7m lank is, sal jou liggaamsmassa-indeks 27 wees.

Ligaaamsmassa-indeks:

• Tussen 18 en 25 is normaal;

• Tussen 26 en 30 dui op oorgewig, en

• ‘n telling van 30 of hoër dui op vetsugtigheid.

“Ek het ook onlangs die DNA-dieetkursus bygewoon waar ons geleer het hoe die mens se DNA jou hormone, gewig, sportiwiteit en gesondheid beïnvloed.

“Genetika het ook ‘n in-vloed op hoe mense reageer op gewigsverlies en diëte,” het Lizel vertel.

“Jou DNA het ‘n groot effek op voedingsaanbevelings, metaboliese effektiwiteit en jou vermoë om gewig te verloor.”

Uiteindelik, het Lizel gesê, moet mense bloot meer aktief wees.

“Dit is raadsaam om ten minste 30 minute lank oefeninge van matige intensiteit vyf dae per week te doen.

“Fisieke aktiwiteit is ook belangrik vir ons gesondheid en welsyn. Dit verminder die risiko van hartsiektes en ander toestande soos vetsug, diabetes, hoë bloeddruk, ongesonde bloedcholesterolvlakke en swak beendere,” het sy gesê.

“Fisieke onaktiewe mense se risiko vir ‘n hartaanval is byna twee maal groter as dié van ‘n aktiewe persoon.”

Related Articles

Back to top button