Local NewsNews

Hoe jy oorgewig en vetsugtige kinders help

Plaaslike dieetkundige Lizel Marais sê statistieke toon dat een uit elke vyf Suid-Afrikaanse kinders oorgewig is.

POLOKWANE – Plaaslike dieetkundige Lizel Marais sê statistieke toon dat een uit elke vyf Suid-Afrikaanse kinders oorgewig is.

“‘n Kind wat oorgewig is, se kans om ‘n vetsugtige volwassene te word is twee tot drie keer groter as die van ‘n kind van normale gewig. Oorgewig het nooit goeie gevolge nie,” sê sy.

“Kinders wat oorgewig is, ly emosioneel en sosiaal daaronder en kan ook lewenstylsiektes soos hartsiektes, hoë bloeddruk, diabetes asook lewer- en galblaassiektes ontwikkel.

“Onvanpaste voeding en ‘n gebrek aan oefening is van die belangrikste oorsake.”

Lizel sê kinders eet dikwels te veel kosse met ‘n hoë glukemiese indeks wat beteken dat suiker te vinnig in die liggaam vrygestel word en bloedglukose-vlakke vinnig styg.

“Die kind se liggaam skei dan oormatige hoeveelhede insulien af om normale bloedglukose-vlakke te probeer handhaaf.

“Hoë insulienvlakke veroorsaak dat die liggaam vinniger meer vet opberg. Wanneer hierdie ongesonde proses daagliks herhaal word, raak die kind oorgewig,” verduidelik sy.

“Dit is voordiehandliggend dat ‘n hoë inname van vetterige kosse en kitskos die situasie vererger.

“Gelukkig kan vroeë ingryping die gevolge tot die minimum beperk indien kinders meer aktief is, porsiekontrole uitgeoefen en ‘n gebalanseerde eetplan volg.”

In Suid-Afrika is gevalle van vetsug besig om te styg.

Volgens statistieke is 27% van meisies en 11% van seuns onder 18 jaar in Suid-Afrika is oorgewig.

Net sowat 50% van Suid-Afrikaanse kinders oefen 150 minute of meer en 29% van Suid-Afrikaanse kinders kyk meer as drie ure lank TV elke dag.

“Redes vir die onaktiwiteit is onder andere die hoë misdaadsyfers en ouers wat lang ure werk. Kinders speel nie meer buite nie weens die vrees vir misdaad en spandeer meer tyd voor die TV of rekenaar,” sê Lizel.

“Daar is verskeie maniere om kinders wat oorgewig is te behandel.

“Dit sluit ‘n gebalanseerde dieet, oefening, psigologiese ondersteuning en gedragsverandering in.”

Related Articles

Back to top button