Local NewsNews

Besigheid dolleeg gedra

Retha Henning, eienaar van Unique Steelworks, het gesê sy het gedink die besigheid sal veiliger wees op haar plaas.

MAKHADO – Die eienaar van ‘n sakeonderneming in die dorp het haar sakeperseel van die dorp af na haar woning op ‘n plaas geskuif om inbrake te vermy nadat daar voorheen by dié besigheid ingebreek is.

Verlede Sondagaand is die besigheid egter op sy nuwe perseel geteiken.

Retha Henning, eienaar van Unique Steelworks, het gesê sy het gedink die besigheid sal veiliger wees op haar plaas.

Die besigheid se nuwe perseel is reg langs haar huis en, alhoewel Henning niks gehoor het gedurende die inbraak nie, is die perseel rot en kaal besteel.

“Ek is nie seker hoe laat hulle ingebreek het nie, maar dit moes iewers tussen 18:00 verlede Sondagaand en 06:00 verlede Maandagoggend ge-wees het.

“Ek is so moeg daarvoor dat mense my goed, waarvoor ek so hard gewerk het. hier wegdra.

“Hulle het die deur van die werksplek oopgeforseer,” verduidelik sy.

Henning wil die gemeenskap vra om op die uitkyk te wees vir bore, swysmasjiene, ‘n blou kragopwekker, vlekvrye staalpale waarin daar klaar gate geboor is, houtgereedskap en staalgereedskap.

Van die gesteelde goedere is later in die veld naby die perseel gevind.

“Dis baie geld se gereedskap wat hierdie mense by my ge-steel het en as iemand enigsins iets verdags sou opmerk of as iemand gereedskap probeer verkoop, skakel my dringend by 084 640 6475,” het Henning gevra.

Henning het gesê sy is net baie bly dat hulle nie in haar huis in ook ingebreek het nie.

Sy sê later daardie Maandag het sy ‘n verdagte voertuig in die veld gewaar.

“Dit was ‘n groen bakkie met ‘n geel noodlig op die dak.

“Toe die bestuurder my sien, het hy dadelik vinnig weggejaag,” sê sy.

Volgens Makhado polisiewoordvoerder, konst. Irene Radzilane, ondersoek die polisie die saak, maar geen arrestasies is tot dusver gemaak nie. Die saak word steeds ondersoek.

Related Articles

Back to top button