Storietyd vir jonk en oud

Twaalf kinders het aandagtig geluister na Annamarie de Villiers, plaaslike kindersielkundige en skrywer

POLOKWANE – Verlede Saterdag is die kinders van die stad en hul ouers heerlik bederf deur ‘n storie-uur by Ambiance Restaurant.

Twaalf kinders het aandagtig geluister na Annamarie de Villiers, plaaslike kindersielkundige en skrywer, wat een van haar eie, asook ander stories, voorgelees het.

Braampie in die Kriekgat is een van Annemarie se eie stories en gaan oor ‘n seun wat nie wou eet nie en toe in ‘n kriekgat geval het.

Hy het so groot geskrik dat hy toe hy, na baie avonture, daar uitgekom het sommer twee porsies gesonde kos geëet het.

Annemarie de Villiers lees stories vir die kinders tydens die storie-uur by Ambiance Restaurant.

Die volgende twee stories wat Annamarie vir die kinders gelees het, was van Anna M. se stories, Wat is die Vinnigste en Hou Gou Vas Daantjie. Ook het sy vir die kinders ‘n storie op ‘n CD gespeel wat hulle ook baie geniet het.

“Dit was nou die tweede keer dat ek so ‘n storieleesuur aangebied het. Die eerste keer was by die Baba- en Kleuterekspo in September. In Desember is daar ‘n vakansieprogram vir kinders waar ek weer my boeke gaan uitstal. Tydens hierdie week gaan daar verskeie aktiwiteite vir kinders wees,” vertel Annamarie.

Ambiance het eetgoed voorsien aan die kinders om aan te peusel terwyl hulle grootoog na Annamarie geluister het.

Exit mobile version