Val van hoë brug eis man

Verlede Vrydag het die lewens van Riette van der Linde en haar twee kinders onherroeplik verander nadat haar man, Willie (45), dood is na hy van 'n brug afgeval het.

POLOKWANE – Verlede Vrydag het die lewens van Riette van der Linde en haar twee kinders onherroeplik verander nadat haar man, Willie (45), dood is na hy van ‘n brug afgeval het.

Volgens Riette het Willie, ‘n loodgieter, verlede week aan die brug in Groblersdal gewerk as kontrakteur vir die Polokwane Munisipaliteit.

“Volgens ooggetuies het hy vooroor gebuk en van die brug afgeval. Die brug is ongeveer vier verdiepings hoog en Willie het in die rivier wat onder die brug verbyvloei beland. Daar het reddingswerkers 90 minute lank gesukkel om hom uit die water te kry,” het sy vertel.

“Paramedici het vir my gesê hulle vermoed Willie kon nie sy harnas betyds inhaak nie en dis waarom hy geval het.”

Weens die slegte weersomstandighede kon die noodhelikopter nie land nie en het die nooddienswerkers Willie per ambulans na die Millpark Hospitaal in Johannesburg geneem.

“Willie het gesterf voordat die ambulans in Johannesburg aangekom het.

“Ek, my ma en my skoonsuster het van Polokwane na Johannesburg gejaag en die slegte nuus gekry toe ons by die hospitaal aangekom het,” het Riette vertel.

Sy het gesê sy sal haar man altyd onthou as iemand wat lief was vir die lewe.

“Ek is so dankbaar vir die goeie tye wat ons saam gehad het.”

Riette en Willie het twee kinders, Rinelda (10) en John (17).

Willie se verassingsdiens sal Vrydag om 11:00 vanuit die Huis van Bediening in Outspanrylaan plaasvind.

Hy word oorleef deur sy vrou, Riette, twee kinders, ma en suster.

Exit mobile version