SA-netbalster in gru-ongeluk wat 3 eis

Lenize Potgieter, bekende kampioen netbal- en ringtennisspeler, sterk tans aan in die intensiewesorgeenheid van Netcare Montana Hospitaal in Pretoria.

POLOKWANE – Lenize Potgieter, bekende kampioen netbal- en ringtennisspeler, sterk tans aan in die intensiewesorgeenheid van Netcare Montana Hospitaal in Pretoria.

Die 20-jarige oud-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) en student van die Universiteit van Pretoria het ‘n kop-teen-kop-botsing met ‘n ander voertuig op die N1-noord naby die Hammanskraal-afrit Saterdagmiddag oorleef.

Heleen Potgieter, Lenize se ma sê haar dogter was oppad na Die Oog Vakansieoord naby Mookgophong toe die botsing gebeur het.

“Die familie was by Die Oog Vakansie-oord vir ‘n junior ringtenniskompetisie en Lenize sou by ons aansluit nadat sy klaar netbal geoefen het. Oppad na ons toe het die ongeluk gebeur,” vertel Heleen.

Heleen voeg by dat een van die bande aan Lenize se motor volgens ‘n ooggetuie gebars het.

“Lenize se motor het regs ge-skiet, oor die middelman, reg voor die aankomende verkeer in. Haar voertuig het gebots met ‘n ander voertuig. Die mense in die ander voertuig was ‘n gesin van Mokopane,” sê Heleen.

Toetse het bevestig dat Lenize niks gebreek het nie en dat sy geen kop- of nekbeserings het nie, maar sy het haar linkerenkel, en sleutelbeen beseer. Sy het ook inwendige bors- en bekkenbeserings en het veelvoudige kneus en snyplekke opgedoen, het haar ma bevestig.

“Lenize is ‘n talentvolle netbalspeler en is gekies om vir die Protea Fast Five-span te speel. Sy speel ook vir die universiteit se eerste-netbalspan in die Varsity Cup.

“Sy sou hierdie week vir die Proteas speel in ‘n wedstryd teen Australië. Sy sou ook oor twee weke saam met die Proteas na Nieu Zeeland reis vir die Fast Five-kompetisie. In April is Lenize ook twee keer as wêreldkampioen in ringtennis gekroon,” vertel Heleen.

Volgens Review se susterkoe-rant, Bosveld Review, was die gesin in die ander voertuig, Frikkie (38) en Thea Roodt (39) en hul twee kinders Ina-marie (5) en Martin (1). Frikkie, Thea en Ina-marie is op slag dood. Bosveld Review berig dat Martin ernstig beseer, maar buite gevaar is. Hy sterk aan in die intensiewesorgeenheid van die George Masebe-hospitaal in Mokopane.

‘n Familielid van die egpaar het aan Bosveld Review vertel die gesin was oppad na ‘n troue in Pretoria.

Daar is reeds begrafnisreëlings getref, maar dit is onbekend presies wanneer die begrafnis sal plaasving, want daar is nog nie sekerheid oor wanneer Martin ontslaan sal word nie.

Die Roodt-egpaar en hul dogter sal saam op Mookgophong begrawe word.

Lt. Sarah Lesabane, polisiewoordvoerder van Temba het be-vestig dat die Hammanskraal polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek en dat daar nog geen arrestasies gemaak is nie.

Exit mobile version