Ouers lê klag teen dagsorgsentrum

Twee sake van aanranding word tans deur die polisie ondersoek na die beweerde hardhandige behandeling van kleuters by 'n plaaslike dagsorgsentrum.

POLOKWANE -Twee sake van aanranding word tans deur die polisie ondersoek na die beweerde hardhandige behandeling van kleuters by ‘n plaaslike dagsorgsentrum.

Luluwaan Dagsorg, wat die afgelope sewe jaar deur Annelize Joubert vanaf haar huis in Florapark bedryf word, is tans die fokus van ‘n ondersoek deur die kinderbe-skermingseenheid en departement van sosiale ontwikkeling. Dagsorgsentrums en kleuterskole val onder die vaandel van dié departement.

Om die kinders wat in die sake betrokke is se identiteit te beskerm, weerhou Review die name van die ouers wat klagtes aanhangig gemaak het.

‘n Ma wat verlede week ‘n saak deur die polisie se kinderbe-skermingseenheid aangemeld het, vertel dat een van haar tweelingdogters onlangs skielik nie haar regterbeen wou gebruik nie, selfs met aanmoediging.

“Die tweeling was twee maande vroeggebore en as ‘n gevolg hier-van het my een dogter probleme met haar balans,” vertel die ma.

Toe die meisie kort voor haar eerste verjaardag een Saterdagoggend nie self wou staan nie, het die ma haar na ‘n dokter geneem. Die gesin is na Pretoria waardaar deur middel van kern X-strale bevind is die been was gebreek. Volgens die ma het die dagsorgsentrumeienaar geen verklaring gehad vir die situasie nie en skynbaar nie geweet die kind het balansprobleme nie.

In die ander onlangse geval beweer ‘n ma haar 10-maande-oue baba het ‘n breuk tussen die voet en knie opgedoen terwyl sy in die sorg van die dagsorgsentrum was.

“Ek het my kind dokter toe gevat toe sy eenvoudig nie wou ophou huil nadat ek haar vroeër gaan oplaai het nie.” Die ma is na die radioloë verwys. Volgens mediese rekords in Review se besit het die meisie ‘n green stick-breuk opgedoen. Dié tipe breuk kom onder jong kinders voor, vanweë die been se relatiewe jong ouderdom en buigbaarheid. Die been doen nie ‘n “skoon” breuk op nie, maar buig wel en fragmenteer of versplinter eerder as breek.

Die ma sê sy was stomgeslaan dat niemand by die sentrum antwoorde gehad het nie.

“Baie van die ma’s bring hulle kinders hierheen aangesien die eienaar ‘n uitgetrede teatersuster is. Dit gee mens gemoedsrus om te weet daar is iemand met mediese kennis byderhand in geval van nood.

“Sy het wel om verskoning gevra, maar ek wou dit nie daar los nie. My kind is maar net ‘n baba.”

Bekommerde ouers het verlede Maandag ‘n vergadering gehou om wat hulle as ongerymdhede bestempel, aan te spreek. Volgens inligting het minstens vyf ma’s hul kinders die afgelope maand uit die dagsorgsentrum se sorg verwyder.

Review het ‘n voormalige werknemer van Luluwaan Dagsorg gekontak. Sy het vertel dat haar gewete haar tot so ‘n mate aangekla het oor gebeure by die sentrum, dat sy uiteindelik ander werk gaan soek het. Die inligting is deur ‘n onafhanklike derde persoon bevestig.

Die bewerings wat deur haar gemaak is word egter deur Review weerhou aangesien die publikasie daarvan die hofsake kan beïnvloed.

Ondersoekbeamptes van die polisie en die kinderbeskermings-eenheid het verlede Donderdag by die dagsorg besoek afgelê, en be-vestig dat ‘n ondersoek aan die gang is. Na afloop van die besoek het die departement van sosiale ontwikkeling ‘n klag van kindermishandeling aanhangig gemaak wat ook ondersoek sal word.

Die eienaar van die dagsorgsentrum is deurgaans tydens tydens Review se ondersoek gekontak, en het telkens bewerings dat die betrokke kinders hardhandig behandel is, ontken.

Vroeg vandeesweek het Andries Rheeder, haar regsverteenwoordiger, die volgende kommentaar gelewer: “Ons bevestig dat ons ontken dat die dagsorgsentrum se personeel die oorsaak was van die besering van ‘n minderjarige kind.

“Ongelukkig kan ons geen verdere kommentaar lewer nie, aangesien die saak tans deur die polisie ondersoek word. Ons bevestig verder dat enige verdere kommentaar kan moontlik die ondersoek kan beïnvloed.”

Review is die laaste twee weke deur talle ma’s gekontak wat die dagsorgsentrum beskryf het as ‘n plek waar hulle kinders baie gelukkig is, en die positiewe invloed wat die personeel in hul kinders se le-wens gehad het.

Kommentaar onderaan artikel

Exit mobile version