Drawwer se geveg om lewe

Liesl Pohl, het Woensdagoggend deel van Suid-Afrika se misdaadstatistiek geword toe sy tydens 'n drafsessie aangeval en twee keer met 'n mes gesteek is.

“Dit was nie dat ek nie geweet het dat dit gevaarlik is om alleen te draf nie, ek het eerlikwaar nie gedink só iets kan met mý gebeur nie.”

Liesl Pohl, een van Review se joernaliste, het Woensdagoggend deel van Suid-Afrika se misdaadstatistiek geword toe sy tydens ‘n drafsessie aangeval en twee keer met ‘n mes gesteek is.

Sy sê sy het vroeg-oggend, net na 06:00, in die omgewing van Dorpstraat gaan draf toe die voorval plaasgevind het.

“Ek het in Woltemadestraat gestop om water te drink. ‘n Man in ‘n wit baadjie het my omgeruk en met ‘n mes gedreig. Hy wou my selfoon hê en ek het verduidelik dat ek nie met ‘n selfoon by my draf nie.

“Die volgende oomblik het hy my sonder waarskuwing met die mes in die maag gesteek. Al wat ek verder onthou is dat ek hom weggestamp het en begin hardloop het. Ek het besef my lewe is in gevaar en al wat ek kon dink was om weg te kom, hulp te kry en my lewe te red,” vertel sy.

Liesl sê sy kan nie onthou hoe sy by die huis gekom het nie, maar dat sy wel onthou dat sy langs haar motor in die motorhuis gestaan het. Daarna het sy haar bewussyn verloor en net voor 15:00 weer bygekom.

“Ek het my bewussyn herwin danksy die aanhoudende gelui van my selfoon in my motor. Ek het die laaste persoon wat my gebel het, teruggebel en dit was een van my kollegas,” sê sy.

“Ek weet nie hoe ek in die motorhuis gekom het nie.

“Ek het net besef ek moet by ‘n hospitaal kom omdat ek vol bloed was en die aanval kon onthou.”

Liesl sê haar kollega het haar daar in die motorhuis gevind en na die Mediclinic Limpopo geneem waar sy vir twee steekwonde, een in haar maag en een in haar regterbobeen behandel is.

“Ek het die aanvaller geen rede gegee om my seer te maak nie.

“Ek het hom nie probeer kwaadmaak of my probeer versit nie. Hy het net nie omgegee nie.

“Dis asof hy met die intrapslag besluit het hy gaan my seer maak, maak nie saak of ek vir hom iets kon gee of nie,” sê sy van haar aanvaller.

In Junie is die voormalige voorsitter van die Polokwane Atletiekklub, Sean Jacobs, en sy drafmaat, Ounooi Breedt, ook tydens ‘n drafsessie aangeval, hierdie keer in Munnikrylaan.

Jacobs her vier messteke opgedoen in hierdie aanval.

“Daar het niks van die saak gekom nie. Ek wou ‘n ruk gelede die doktersverslag by die polisie kry vir versekeringsdoeleindes. By die poli-siestasie aangekom was die dossier leeg. Niemand kon vir my verduidelik waar al die dokumentasie heen verdwyn het nie,” vertel hy.

Polokwane polisiewoordvoerder, AO Lesiba Ramoshaba, het bevestig dat die dossier nie volledig is nie en het gesê hy sal die saak ondersoek en so gou as moontlik aan Review terugvoering gee.

Liesl sê dat sy ‘n saak by die polisie gemaak het en dat die saak ondersoek word.

Sy sê sy sal nie gou weer alleen gaan draf nie, maar dat sy besluit het om nie ‘n slagoffer te bly nie.

“Ek gaan nie bang deur die lewe gaan nie.”

Ramoshaba sê die polisie gaan hul patrollies opskerp en vra dat mense met inligting oor aanvalle op drawwers die Polokwane polisiestasie by (015) 290 6531 kontak.

Exit mobile version