Local NewsNews

Na 60 jaar sê Lammie totsiens

Lammie Bouwman (80) gaan die modebedryf vaarwel toeroep na 60 jaar.

Lammie Bouwman (80) gaan die modebedryf vaarwel toeroep na 60 jaar.

Sy gaan van 15 Oktober af, wanneer die meeste matriekafskeidsgeleenthede verby is, al haar voorraad teen halfprys uitverkoop en haar winkel sluit, tensy die besigheid intussen verkoop word.

Lammie is by uitstek bekend vir die persoonlike diens by haar onderneming in Ooststraat, waar aand-, skemerkelk- en trourokke ry op ry staan en voornemende kopers of huurders van rokke verwelkom word met ‘n wye keuse van rokke; amper te veel om van te kies.

“Dis nou tyd, ek is nou klaar. My kinders en man wil hê ek moet nou finaal uitspan,” sê Lammie.

Sy het altyd rokke ontwerp, maar sewe jaar gelede slegs ingevoerde rokke begin verkoop.

“Ek is lief vir mooi goed, so ek het aand-, matriekafskeid-, skemerkelk- en trourokke ingevoer.”

“Ons oues wat die werk kan doen sterf uit,” meen sy.

“Die jonger geslag wil nie meer verstellings en al die harde werk doen wat met kleremaak en -ontwerp saamgaan nie. Net dié wat werklik moeite wil doen en hard werk sal naam maak.”

Haar werk en die kontak met mense is haar passie, maar die ouderdom het haar nou ingehaal, anders het sy nog lank aangehou met hierdie passie van haar.

“Ek sal wel nog herstelwerk doen vir mense, ek kan nie net sit en niks doen nie,” vertel die besige vrou wat haar lewe lank klere gemaak, verhuur, verstel en verkoop het.

Sy sal haar ook besig hou met breiwerk en die verkoop van gebreide serpe, nekverwarmers, sjaals, mussies en mantels, waarvan sy ‘n groot voorraad gereed het om te verkoop; sag en mooi en warm vir die winter.

Lammie vertel dat sy baie geseënd was om haar lewe lank te kon doen wat sy geniet.

“Ek is dankbaar vir al die kanse wat ek gehad het, die mense wat my ondersteun het en nog ondersteun. Ek gaan hulle mis.”

Sy vertel ook van die goeie onderlinge verhoudinge wat die onderskeie modebesighede in die stad met mekaar gehad het, dat daar plek was vir almal en dat hul mekaar ‘n plek gegun het.

Die getroue Rebecca Maponya wat al vir 25 jaar vir Lammie werk gaan ook nou op pensioen.

“Sy is ‘n wonderlike en getroue werker, so lojaal,” vertel Lammie.

Lammie het op 18-jarige ouderdom saam met haar ouers van Nederland na Suid-Afrika gekom.

Sy het by ‘n modesalon trou-rokke gemaak en later op haar eie gewerk.

Haar bekende kliënte sluit Cindy Nell, Eileen Schofield en Marie Bouwer in, “maar elke kliënt was belangrik,”sê sy.

Related Articles

Back to top button