Mattie Viviers word onthou met liefde

Wêreldberoemde gholfspeler, Retief Goosen, se ouma, Mattie Viviers, is op 10 September oorlede. Sy was 104 jaar oud.

Wêreldberoemde gholfspeler, Retief Goosen, se ouma, Mattie Viviers, is op 10 September oorlede. Sy was 104 jaar oud.

“My ouma het niks geweet van gholf nie, maar het later van jare tog baie belangstelling getoon. Ek is jammer om ‘n ouma soos sy te verloor en ek is spyt dat ek, as gevolg van my werk, haar so min kon sien en by so min van haar verjaardae kon wees,” het Goosen aan Review gesê.

Hendrik Viviers, Mattie se seun, het vertel dat sy die beste ma was waarvan enige kind maar kon droom.

“Iets wat ek nooit van haar sal vergeet nie, is dat sy baie gelowig was. As jy na haar gesoek het, was sy in die kamer besig om haar Bybel te lees. Wanneer ek aan haar dink, dink ek aan die Bybel. Ek het by haar dissipline geleer, hoe om gelowig te wees en om ander te respekteer,” het hy gesê.

Hendrik is een van vier kinders en die enigste seun. Hy het vertel dat sy ma ‘n baie sagte, liefdevolle mens was.

Theresa Schoeler, een van Mattie se kleindogters het gesê dat sy nie kan onthou of hulle ouma ooit met hulle geraas het nie.

“Ek onthou haar as ‘n regte dame. Sy was soos ‘n koningin en het ons die mooiste tafelmaniere geleer.

“Haar naels en hare was altyd goed versorg en wanneer sy ‘n rok aangehad het, het haar krale altyd by haar rok gepas. Ek onthou sy het altyd saam met ons regte teepartytjies gehou,” het sy vertel.

Theresa het ook vertel dat haar ouma haar geleer het om altyd die beste in ander mense raak te sien.

“Sy was ‘n Christen en het gelewe wat sy gesê het. Sy het altyd maklik gelag en was baie lief vir stories en om stories te vertel.

“Alhoewel sy die snaakse kant van die lewe gesien het, kon sy oor ernstig wees wanneer sy moes. Sy was baie saggeaard.”

Victor Schoeler, Mattie se oudste agter-kleinseun, het gesê hy onthou sy oumagrootjie as ‘n baie sagte mens wat almal se verjaarsdae onthou het.

“Daai tyd het jy nog R5-note gekry. Sy het altyd vir ons ‘n R5-noot in die pos gestuur op ons verjaardae.

“Sy was ook baie gelowig en het altyd ‘n boekie byderhand gehad wat sy gebruik het om in te skryf vir wie sy elke dag moet bid.

“Elke dag het sy vir ‘n ander kind en sy familie gebid. Ons was so baie, sy moes dit neerskryf sodat sy nie vergeet het nie. Ek het baie by haar geleer. Sy was baie lief om stories van my oupagrootjie te vertel; van hoe hulle ontmoet het en hul lewe op die plaas.”

Ds.Tjaard Meyer van die N.G. Kerk Pie-tersburg-Oos het vertel hy onthou vir Mattie as iemand wat altyd omgegee het vir ander mense.

“Sy was ‘n getroue lidmaat wat in 1987 by ons gemeente aangesluit het. Sy was lojaal en getrou aan die gemeente en het selfs in laterjare, toe sy nie meer kerk toe kon gaan nie, vir die mense op die gebedslysie gebid. Sy was ‘n baie sorgsame mens.”

Exit mobile version