Franco Marx bring regskennis na rol as raadslid

Die nuwe DA wyksraads-lid vir wyk 20, Franco Marx, het gemeen dat daar nie genoeg regskennis in die stadsraad is nie

Franco Marx het in 2007 sy studies as prokureur voltooi aan die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom.

Die nuwe DA wyksraads-lid vir wyk 20 het gemeen dat daar nie genoeg regskennis in die stadsraad is nie en dat hy dalk kan help om die leemte te vul.

“In my werk as prokureur het ek baie munisipaliteit-verwante klagtes ontvang. Ek het ‘n paar sake teen die munisipaliteit gehad en het besef dat mens nie vir mense duisende rande kan vra om byvoorbeeld R2 700 terug te kry nie. Die fooi was net doodeenvoudig nie die moeite werd nie, maar daar was soveel probleme. Terselfdertyd het ek besef dat die munisipale amptenare nie hul werk reg doen nie; as daar byvoorbeeld ‘n dispuut verklaar word, mag die verbruiker se water nie afgesny word nie en dit word gedoen.”

Geskatte lesings veroorsaak, aldus Franco, baie probleme by munisipale rekeninge. So het hy byvoorbeeld ‘n kliënt wie ‘n voorafbetaalde meter het, maar daar is in Desember ‘n bedrag van R25 000 van hom afgetrek en onlangs weer, alhoewel hy nie huurders in die spesifieke gebou gehad het nie en dit weens geskatte lesings.Dis geld steel,” ver-klaar hy onomwonde.

“Die munisipaliteit volg nie hul eie beleid nie. As daar een maand nie ‘n le-sing geneem kan word nie, is daar veronderstel om sekere prosedures gevolg te word om die lesing te skat.

“Ek wil weet wat die prosedures is en in watter bywette dit vervat is.”

Volgens Franco is daar baie bywette van die munisipaliteit wat verouderd is en opgedateer moet word of met nuwe bywette vervang moet word.” So is daar byvoorbeeld nog munisipale wette oor parkeermeters wat geld. Wanneer laas het jy ‘n parkeermeter in die stad gesien? Ek het baie sulke klein goed in die praktyk opgetel wat reggestel behoort te word.”

Franco wil graag binnekort ‘n wyksvergadering in sy wyk hou en soveel moontlik mense betrek daarby.

“Mense kan nie rondom die braaivleisvuur kla oor goed wat verkeerd is en dan nie daaroor kla in ‘n forum waar dit aangespreek kan word nie. Vir my is die raads-posisie gemeenskapswerk ”

Hy wil geskrewe vrae aan die burgemeester stel en meen dat 100 klagtes oor een saak tegelykertyd ingedien eerder die administratiewe las minder maak as wat honderd individuele klagtes sou doen.

Hy wil ook graag by die gemeenskapspolisiëringsforum betrokke raak omdat hy meen daar is baie sake wat deur die munisipaliteit aangespreek moet word en hy kan daarmee help.

Hy vertel van die nuwe heffing op dienste wat nou op die munisipale rekeninge bygekom het, en sê daar is niks wat nou daaraan gedoen kan word nie en dat belastingbetalers maar sal moet opdok, want daar word tog instandhouding gedoen en die beleid is deur die raad goedgekeur.

Die grootste probleem in sy wyk is volgens hom die toestand van die paaie en straatligte wat nie werk nie of heeltyd aan is.

Hy wil ook al die mense in sy wyk betrek en ‘n groot veldtog van stapel stuur sodat mense sal weet in wie se wyk hulle val en wie geregi-streer is om waar te stem.

Hy het begin met ‘n WhatsApp–groep waarheen mense in sy wyk byvoorbeeld klagtes kan stuur.

Hy wil ‘n wykskommitteelid in elke straat in sy wyk hê sodat dit vir inwoners maklik is om met dié komiteelid te skakel.

Marco is 28 jaar oud en het sy lewe lank in Polo-kwane gewoon. Sy ouers woon ook nou nog hier. Hy het geen begeerte om parlement toe te gaan nie en sê sy hart lê by munisipale sake en om dinge op díe plaaslike vlak reg te maak.

“Ons is die grootste munisipaliteit in die provinsie en kan die beste ook wees. Ek het ‘n tweejaar-termyn voor en werk nou al hard vir die plaaslike bestuursverkiesings van 2016. Ek is eerstens ‘n Polokwane-raadslid en dan ‘n DA-raadslid.”

Sy vrou, Cloutelle, ondersteun hom in sy werk en hulle ry graag saam fiets.

Hy hou ook baie van visvang en speel tennis as hy tyd kry. Hy is lid van sosiale klubs soos die Pietersburgklub en die polisieklub.

“Ek hoop om ‘n verskil te maak, maar kan dit nie alleen doen nie. Ek vra mense in my wyk om die vergaderings by te woon en nie onbetrokke te bly nie,” sê hy. As jy graag op die wykskomitee in wyk 20 wil dien, skakel Marco by 061 600 6712.

Exit mobile version