Tooi jou bome ook in pienk

Die Pink Trees for Pauline-inisiatief se doel is om bewusmaking oor borskanker te skep, om gemeenskappe saam te bind in die geveg teen kanker

Oktober is Borskanker-bewusmakingsmaand en eersdaags sal die bome in die stad weer in die allerfraaiste pienk lap getooi wees.

Die Pink Trees for Pauline-inisiatief se doel is om bewusmaking oor borskanker te skep, om gemeenskappe saam te bind in die geveg teen kanker en om fondse in te samel vir organisasies sonder winsbejag wat kankerlyers help.

Sharon Stander, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa Polokwane, sê dié Kansa-tak neem ook deel aan hierdie projek en die stad se bome sal binnekort in hul pienk gewade pronk.

Rolle pienk materiaal sal binnekort by verskeie afsetpunte beskikbaar wees teen R20 per meter. Sharon moedig die pu-bliek aan om die projek te ondersteun en die bome by hul kantore, spreekkamers, besighede, huise en skole in pienk te tooi.

“Kansa is dankbaar om kankergemeenskappe regoor Suid-Afrika en Namibië te kan help. Dit is voorwaar ‘n verootmoedigende belewenis. Dit is met hierdie gevoel van dankbaarheid nog steeds in ons midde wat almal betrokke by Pink Trees for Pauline gereed maak vir die nasionale feesvieringe wat op 17 Oktober sal plaasvind,” sê Stander.

Volgens Stander kan die sukses van hierdie projek nie net gemeet word aan die bykans 70km material waarin bome regoor Suid-Afrika toegedraai is, of die feit dat 55 dorpe deelgeneem het aan die inisiatief nie.

“Die sukses van die projek was duidelik uit die feit dat verskeie geregistreerde kankerorganisasies saamgewerk het tot die voordeel van hul plaaslike kankergemeenskappe en hul families wat geraak word.

“Die geregistreerde kankerorganisasies wat by die projek gebaat het was order meer Kansa, Cancervive, Hospice, Reik na Herstel en Graaff-Reinet Kankerorganisasie en Distrikte.

“Materiaal is ook geskenk aan organisasies sonder winsbejag en sommige dorpe het selfs addisionele fondse gegenereer deur produkte soos handsakke, hoede en plekmatjies van die materiaal te maak en dit te verkoop.

 

“Pink Trees for Pauline het vanjaar weggespring met ‘n substansiële borgskap van die Protea Hospitality Group. Dit is altyd hartroerend om vrygewigheid vanuit die besigheidsektor te beleef.

“Tot op hede het reeds 96 dorpe hulself verbind om aan die projek deel te neem en dit is bemoedigend om te hoor hoeveel skole betrokke raak. Mens weet net dat ‘n blink toekoms op ons wag wanneer kinders omgee vir ander,” sê Stander.

“Besighede, organisasies en die publiek is vinnig besig om klaar te speel met die bykans 70km materiaal wat hierdie jaar beskibaar is vir die projek. Die opgewondenheid van die deelnemende dorpe is aansteeklik en dorpe daag mekaar selfs uit om te sien watter dorp se inisiatief samel die meeste fondse in.

“Dan word ons weer herinner waarom ons die projek aanpak. ‘n Vrou verloor haar suster aan kanker en bestel 75m material om bome in St. Helenabaai toe te draai ter nagedagtenis aan haar suster.

“John Allderman van Addo het vroeër vanjaar ons harte geraak toe hy in ‘n pienk tutu op sy motorfiets deur die Oos-Kaap getoer het net om sy geliefde Cheryl te laat glimlag. Ongelukkig het sy haar jarelange stryd in Augutus teen kanker verloor. Wanneer mens dan hoor van Dr. Janita Botha van Somerset Oos en haar brawe planne om die 2 000km Kalahari Bash in Oktober 2014 op haar Honda motorfiets aan te pak ter ondersteuning van Pink Trees for Pauline, dan weet jy jy het daardie voëltjie hoor sing.”

Vir meer inligting of om van hierdie pienk materiaal te borg, kontak vir Stander by 079 887 0043 of stuur ‘n e-pos na sstander@cansa.org.za

Exit mobile version