Trouklokkies lui vir Gert en Bernadine

Kerse en kristalle ingekleur met silwer, aqua en wit het Saterdag Gert en Bernadine se troue by Bolivia Lodge in 'n sprokie omskep.

POLOKWANE – Kerse en kristalle ingekleur met silwer, aqua en wit het Saterdag Gert en Bernadine se troue by Bolivia Lodge in ‘n sprokie omskep.

Review reik jaarliks uit na die plaaslike gemeenskap en vanjaar het ons besluit om, met die hulp van ‘n paar borge, vir Bernadine en Gert ‘n ongelooflike geskenk te gee: ‘n troue.

Bernadine het ‘n besondere veggees haar storie is een van hoop. Sy is verlede jaar met kanker gediagnoseer. Die troukalender moes opsygeskuif word en die spaarkvarkie moes nou sy deel bring om vir haar mediese koste te betaal.

Ons het lesers saam met ons op dié trou-reis geneem toe ons in Mei besluit het om Bernadine en Gert se trou-droom te bewaarheid.

Op Saterdag 30 Augustus het die groot dag aangebreek en ons was bevoorreg om dié spesiale dag met die paartjie te deel.

Vrydagmiddag:

Al die maande se reëlings, die onthou-lysies asook die ditjies en datjies het bymekaargekom. Vir ‘n span wat eintlik net met koerantpapier werk het ons ons goed van ons taak ge-kwyt. Bolivia Lodge was die plek en ons was gereed om die Baobab-saal in ‘n sprokieswêreld te omskep.

Decoratz Function Décor het die saal se dak drapeer met wit lappe en feëtjieliggies. Cornel Vermaak van Sugar ‘n Spice Function & Décor het tafelstaanders, tafeldoeke, stoelstrikke, sierborde, spieëls en kristalle afgelewer. Anrulé Plant & Décor Hire het gesorg dat die bruid en bruidegom geraam was in sterretjies, omring deur liggies.

Met die hulp van Bolivia Lodge se personeel is die tafels gedek en stadig maar seker het die prentjie voor ons ontvou. Ons het hier gevat en daar gelos, geskuif, gehang en gevou.

Bernadine het Vrydagaand by Boliva Lodge oornag en Placécol Skin Care Clinic Cycad het haar gemani-kuur, gepedikuur en haar laat ontspan met ‘n rug- en nekmassesering.

Die bruid was reg en die groot dag moes net aanbreek.

Saterdagoggend:

Dit was tyd om seker te maak dat alles, tot die laaste kleinigheid, perfek was: die vonkelwyn wat deur die vriendelike span van Flora Park Tops geskenk is was koud, die blomme wat Goseame Flower Market geskenk het, is afgelewer – pienk rose het in glaspotjies met water gedryf, die bruid se handruiker was vol diamante en die spesiale foto’s van haar pa en ouma het aan die ruiker gehang.

Antionette en Dawie Lindner het gesorg vir musiek en gaste het tot vroegoggend geskoffel. Die troukoek was ‘n vierlaag prentjie van pienk blomme en diamante wat op ‘n silwer toring gepryk het, danksy die handewerk van bobaasbakker Noelene Maré.

Veronica Wepener van House Vemasu het die mat waaroor Bernadine gedroom het uitgerol. 1 Korinthiërs 13 is daarop geskryf.

Die snoephappies wat deur Meropa Casino and Entertainment World verskaf is het in die kombuis gewag vir die gaste om aan te smul.

Die tafelplasing het in die wind gewapper en die silwer en aqua-konfetti was reg om gestrooi te word.

Die bruid se hare was elegant en stylvol, dit was die handewerk van Jeanie Basson en haar span van Universal Hair Studio. Jeanie het nie net Bernadine se hare op dié dag gedoen nie, maar het dit ‘n week voor die troue ook haar hare gekleur en gesny.

Anda-Lucia Jordaan van Alusha Art het die perfekte prentjie voltooi en gesorg dat Bernadine ekstra-mooi lyk. Sy het ook gesorg vir die ma’s, ouma, strooimeisie en blommemeisie se grimering.

Die horlosie het aangestap na 16:00 en in haar droom Erika Mengouchi-trourok het Bernadine die kerk ingestap. Gert se glimlag het vertel van die liefde en waardering wat hy vir haar het en die belofte om by haar te staan deur goeie en slegte tye. Dit was die perfekte-prentjie. Die troudag waaroor hulle gedroom het.

Sane Meyer van Purple Feather Photography het Gert en Bernadine se sprokiesdag op kamera vasgevang, en vir hulle herinneringe geskep wat hulle vir jare kan koester.

Die vonkelwynproppe het geklap, die koek is gesny, die heildronke is ingestel en die dansvloer is geopen.

Gert en Bernadine du Preez, mag julle huwelik gevul wees met vreugde, geluk en liefde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version