Nuwe Kruinie-hoof

Curro Heuwelkruin Laerskool het 'n nuwe operasionele hoof wat die skoene van die vorige hoof, Thinus Enslin, met gemak volstaan.

POLOKWANE – Curro Heuwelkruin Laerskool het ‘n nuwe operasionele hoof wat die skoene van die vorige hoof, Thinus Enslin, met gemak volstaan.

Lowe Kruger is ‘n ou hand by Curro Heuwelkruin en het voorheen wiskunde as vak by dié skool se hoërskool aangebied.

Gebore in die destydse Natal, verwerf hy sy hoër onderwysdiploma aan die Durbanse Onderwyskollege.

In 1990 het hy in Richardsbaai begin skoolhou en hy onthou sy eerste klas soos gister, vertel hy.

“Ek het in Junie by die skool begin en die gr. 11E-klas was my klas. Daar was 15 seuns in die klas. Kort voor die matriekafskeid het ek en die seuns een aand gery om takke en blare vir die funksie te sny. Daardie aand het ek gesien hoe kinders wat gedink het dat hulle manne was, weer seuns geword het. Ek onthou vandag nog hulle name,” vertel hy.

Voordat hy by Heuwelkruin nesgeskop het, het hy by Felixton College in Empangeni skoolgehou. Daarna was hy adjunkhoof by Mitchell House College en skoolhoof by Meridian College. Hy was ook in die skoolhoofstoel van die Northern Muslim School.

Na verskeie hoë poste, het hy by Curro Heuwelkruin as onderwyser ingeskakel.

“By ander skole het ek die hoogste sport bereik, maar by die Curro-groep is daar baie geleenthede wat my na hoër hoogtes kan neem. Ek is baie beïndruk met Heuwelkruin en opgewonde om deel van die span te wees.”

Volgens Kruger is die onderwys deesdae meer uitdagend as is vroeër jare, bloot omdat die leerplan al soveel verander het.

“Eers was dit outcomes based education en toe curriculum assessment policy statements. Verandering is vir enige mens moeilik, maar ‘n goeie onderwyser se kwaliteit van onderrig sal nie sommer verander nie.”

Kruger se vrou, Linda, is hoof van Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum en hulle het drie kinders; Driaan, Wian en Janniéke.

Sy lewensuitkyk, meen hy, is dat alhoewel hy dalk sy lewe kan beplan, dit God se wil is wat uiteindelik moet geskied.

En, as hy nooit onderwyser geword het nie, waar sou hy vandag wees?

“Waarskynlik in die regte iewers,” sê hy, as landdros.”

Exit mobile version