Kokkedore besoek PHS met heerlike smaaksensasies

Leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) het Maandag enige moontlike verskoning uitgedink om 'n draai by die skool se restaurant te maak, want die heerlikste geure het uit dié restaurant gewalm.

POLOKWANE – Leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) het Maandag enige moontlike verskoning uitgedink om ‘n draai by die skool se restaurant te maak, want die heerlikste geure het uit dié restaurant gewalm.

Johnny Hamman, Alet van der Westhuizen en Marius Uys, drie van KykNet se Kokkedore, het die skool besoek as deel van Johnny se Slippery Spoon Pop-Up Restaurant.

Dié konsep behels dat die drie Kokkedore ‘n mobiele restaurant na enige gemeenskap neem en inwoners bekendstel aan fynproewer-disse.

Die span staan volgens Alet deesdae bekend as Die Drie B’s. Johnny het tydens elke Kokkedoor-uitsending ‘n borsspeld gedra, Marius is lief vir sy armbande (bangles) en Alet is blond. Hulle het vertel hoe hulle reeds tydens die kompetisie besluit het om ‘n toer saam aan te pak, maak nie saak wie die kompetisie wen nie.

Johnny het aan Review vertel dat hy die geleentheid aangegryp het om ‘n draai te maak by sy Alma Mater, PHS.

“Die eerste aand het ons voorberei vir 30 gaste, maar soveel belangstelling gekry dat ons op die ou einde 50 mense bedien het. Die mense is amazing en ek is aangenaam verras,” het Marius gesê.

Alet het verduidelik dat hulle nie veel tyd gehad het om Polokwane te verken nie, maar dat sy graag weer sal wil kom kuier en meer tyd in en om die stad wil spandeer.

“Die verwelkoming was iets wat ek nog nooit beleef het nie. Die hulp van die leerders was ongelooflik. Reg deur die dag was daar geen tekort aan hulp van ‘n ieder en elk nie,” het sy gesê.

Johnny het vertel dat hy skoon nostalgies was toe hy by PHS ingestap het Maandag.

“Dit was wonderlik om al die bekendes weer te sien en om saam met my oud-onderwysers pret te hê agter die kospotte.”

Exit mobile version