Alusha Art verseker ‘n bloesende bruid

'n Vlekkelose gelaat, blink oë en 'n glimlag wat die verkeer tot 'n halt kan bring, enige bruid wil ekstra-mooi op haar troudag lyk.

POLOKWANE – ‘n Vlekkelose gelaat, blink oë en ‘n glimlag wat die verkeer tot ‘n halt kan bring, enige bruid wil ekstra-mooi op haar troudag lyk.

Die dag van Bernadine Hugo en Gert du Preez se troue is nou om die draai en die lekkerkry-senuwees begin al knaag.

Anda-Lucia Jordaan van Alusha Art het aangebied om Bernadine se grimering te behartig op haar trou-dag, 30 Augustus.

“Ek wil Bernadine nóg mooier laat lyk as wat sy reeds is. Ek doen dit uit die diepte van my hart,” het Anda-Lucia aan Review vertel.

Alusha Art spesialiseer in gri-mering en weet presies wat elke bruid, model en verhoogpersoonlikheid nodig het.

Anda-Lucia het verduidelik dat sy presies weet hoe om bruide asook loopplank- en fotografiese modelle te grimeer. Sy doen ook kreatiewe gesigverf, fantasiegrime-ring, matriekafskeidgrimering, verhooggrimering en spesiale effekte met grimering.

“Dit is vir my ‘n voorreg om vir Bernadine te grimeer. ‘n Mens kan kanker nie sien nie. Mens sien die newe-effekte van die behandeling, maar nie die kanker self nie. Dis soos armoede, depressie en hartseer; mense weet nie altyd dat jy hulp nodig het nie,” het Anda-Lucia gesê. Anda-Lucia het drie grootouers, twee baie onlangs, aan kanker afgestaan en dis waarom sy so graag vir Bernadine iets spesiaal wil doen.

“‘n Bruid moet ‘n natuurlike voorkoms hê. Ons gaan vir Bernadine ‘n natuurlike voorkoms gee met ‘n tikseltjie pienk om die voorkoms vroulik af te rond.”

Anda-Lucia gaan ook die ma’s van die bruid en bruidegom, Bernadine se ouma asook die bruid se gevolg grimeer.

Bernadine se oë het geblink toe sy van Anda-Lucia se planne hoor.

“Anda-Lucia het my skoon opgewonde. Ek beskou haar werk as ‘n kunsvorm en ek waardeer dit opreg dat sy ons grimering gaan behartig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version