Skool rou oor juffrou Susan

"Haar vak was haar trots en een van haar oud-leerders het eendag gesê: 'as jy by Juffrou Susan Afrikaans in gr. 7 gekry het, ken jy jou werk tot in gr. 12'."

POLOKWANE – “Haar vak was haar trots en een van haar oud-leerders het eendag gesê: ‘as jy by Juffrou Susan Afrikaans in gr. 7 gekry het, ken jy jou werk tot in gr. 12’.”

Met hierdie woorde in ‘n huldeblyk aan Susan Geyer (50), geliefde Oosskool-onderwyser, het haar kollega Adri Lambrechts dié geliefde juffrou gisteroggend in die skool se personeelkamer onthou.

Geyer is Vrydagoggend omstreeks 04:00 in haar slaap oorlede, vermoedelik aan ‘n hartaanval.

Die vlag by Oosskool hang sedertdien halfstok, en ouers, onderwysers en leerders is steeds verslae oor haar skielike afsterwe.

Van haar kollegas het aan Review gesê Geyer het Donderdag in die personeelkamer nog met hulle gesels, en daar was geen sigbare teken dat sy nie gesond gevoel het nie.

“Ons as personeel was be-voorreg om Susan vir ‘n paar jaar by ons te kon hê. Sy het diep spore getrap hier by Oosskool en haar dood laat ‘n groot leemte,” het Lambrechts gesê.

Geyer, ook onder haar kollegas bekend as die “staatmaker”, was die kultuurhoof by Oosskool en het Afrikaans as vak aangebied vir gr. 7-leerders.

Ouers en onderwysers het gesê sy sal onthou word vir haar humor, empatie met leerders wat nie leiers geword het nie, haar kreatiewe idees en ook haar vriendskappe by die skool.

Sy was deel van die skool se bestuur en was betrokke by die organisering van die Limpopo- redenaarskompetisie.

Geyer was aan die stuur van die skool se kunstefees, die Koraalfees, en sy sal veral onthou word vir haar passie vir Afrikaans. Sy was vir agt jaar aan die skool verbonde.

Geyer laat haar man, Louis, en kinders, Francél en Tian, albei PHS-leerders, agter.

‘n Gedenkdiens word hierdie Donderdag, 31 Julie, vanuit die N.G. Kerk Pietersburg-Noord om 12:00 gehou.

Exit mobile version