Ongeluk tref skool weer

Die leerders en onderwysers van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé moet vir 'n derde keer vanjaar die dood van 'n geliefde leerder verwerk.

POLOKWANE – Die leerders en onderwysers van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé moet vir ‘n derde keer vanjaar die dood van ‘n geliefde leerder verwerk.

George John (JJ) van Rooyen het Dinsdag gesterf na ‘n motorfietsongeluk.

Volgens Polokwane polisiewoordvoerder, A.O. Lesiba Ramoshaba het JJ se motorfiets teen ‘n motor gebots op die hoek van Jorrisen- en Compensatiestraat. Hy het gesê die ongeluk word steeds ondersoek, maar ‘n ooggetuie het aan Review gesê die motoris het ‘n stopteken verontagsaam.

Ramoshaba kon hierdie inligting nie bevestig nie. Hy het wel gesê die polisie het oorspronklik ‘n saak van roekelose bestuur ondersoek, maar na JJ se dood is die saak verander na strafbare manslag.

Enige ooggetuies met inligting oor die ongeluk kan A.O. Johan Kotzé skakel by (015) 290 6762.

Vir JJ se vriende en familie sal hy altyd die seun met die mooi maniere bly. Verskeie mense het aan Review gesê hy was altyd hulpvaardig en het nooit ‘n slegte woord vir enigiemand gehad nie.

“Na ‘n tragedie sê mense altyd daar is nie woorde nie en dit is ook hier waar. Ons was so geseën om hom te kon ken. Ek voel jammer vir mense wat nie vir JJ geken het nie, want hulle is die geleentheid ontneem om te weet hoe spesiaal hy mense kon laat voel,” het een van sy vriende, Daniël Kleyn, gesê.

“JJ het uitgestaan onder die leerders by die skool en was vir talle ‘n steunpilaar,” het Hendrien van der Watt, ‘n onderwyser, gesê.

Sy het vertel hoe sy onlangs gesien het toe JJ ‘n jonger leerder op sy motorfiets gelaai het.

“Hy het eers seker gemaak die seun se valhelm is vas en dat hy stewig sit voordat hy gery het. Ek het eendag met hom die spot gedryf in die klas en aan sy klasmaats vertel hoe mooi hy na die jonger seun omgesien het, hulle het vir hom hande geklap en hy her bloedrooi geword. Hy was ‘n beskeie seun wat nooit sou terugstaan as dit by iemand help kom nie.”

JJ se tannie, Melanie Mallison, het gesê hy was sy ouers se “sonskynkind”.

“Hy het oral waar hy gegaan het mense se lewens beïnvloed. Almal was baie lief vir hom.”

Besonderhede van JJ se roudiens was nog nie beskikbaar teen druktyd nie.

Exit mobile version