NewsSchools

PHS se uitreikspan bring hoop vir Swazi-mense

'n Groep leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) het gedurende die afgelope skoolvakansie saam met van hul onderwysers na Swaziland gereis om daar 'n positiewe verskil in mense se lewens te maak.

POLOKWANE – ‘n Groep leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) het gedurende die afgelope skoolvakansie saam met van hul onderwysers na Swaziland gereis om daar ‘n positiewe verskil in mense se lewens te maak.

Die groep het onder andere die gemeenskap van Big Bend gehelp om ‘n volhoubare groentetuin te vestig om sodoende ‘n beter lewe vir hulself te maak.

Onderwyser Arouna van der Walt was aan die stuur van die toer en het aan Review vertel dat hulle op 5 Julie vertrek en op 12 Julie teruggekeer het na Polokwane.

“Die eerste paar dae het ons gefokus op spanwerk. Ons het ‘n stuk veld skoongemaak en voorberei vir die groentetuin. Ons het ook ‘n heining opgesit en doringtakke aan die buitekant van die heining gepak om die varke en bokke uit te hou,” het sy verduidelik.

Jozua Serfontein, ook ‘n onderwyser, het gesê die groep het in die aande plaaslike selgroepe besoek en wonderlike terugvoer gekry. Hulle het ook deur-tot-deur gebedsbediening gedoen en saam met inwoners gebid.

“Tydens die tweede deel van die toer het ons die groentetuin geplant. Ons het ook geleer hoe om stene te maak en gehelp bou aan ‘n nuwe kerk,” het hy gesê.

“Ons het die laaste dag geëindig met ‘n epiese sokkerwedstryd teen van die plaaslike inwoners. Hulle het ons 3-2 gewen, maar die skare was beslis aan ons kant.”

Van der Walt het vertel die leerders kon nie glo in watter omstandighede die mense van Swaziland woon nie.

Sy het gesê dit was belangrik vir die leerders om te besef dat dié mense steeds naby aan God leef, selfs al het hul so min om van te leef.

Related Articles

Back to top button