Jamie elke dag sterker na kwadfietsongeluk

Jamie Badenhorst (17) is steeds in die hoësorg-eenheid van Limpopo Mediclinic nadat sy linkerbeen geamputeer moes word na 'n kwadfietsongeluk.

POLOKWANE – Jamie Badenhorst (17) is steeds in die hoësorg-eenheid van Limpopo Mediclinic nadat sy linkerbeen geamputeer moes word na ‘n kwadfietsongeluk.

Jamie is ‘n inwoner van Makhado en ‘n gr. 11-leerder aan die Hanglip CVO skool.

Jamie het op Vrydag, 20 Junie saam met twee vriende op hul kwadfietse by die Spiesdam gaan rondry. Met hulle terugkeer vanaf die dam by die Sithumule-padkruising, het sy vriende omgedraai nadat hulle besef het hy het agterweë gebly.

Hulle het op ‘n erg beseerde Jamie afgekom. Hy het vir iets in die pad uitgeswaai en daarna met ‘n padroller gebots wat langs die pad was.

Volgens Jamie se ma Sanette weet niemand presies wat gebeur het nie en Jamie self kan nie onthou nie.

Die ongeluk het tussen 16:00 en 17:00 gebeur en Jamie is daarna in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal gestabiliseer waarna hy dieselfde aand oorgeplaas na die Limpopo Mediclinic in Polokwane waar daar na sy wonde gekyk is en daar na evaluering besluit is om sy linkerbeen tussen die heup en die knie te amputeer.

“Dit was ‘n baie groot skok vir familie en vriende toe daar besluit is om sy been te amputeer. Ons was geskok maar dankbaar dat ons hom darem nie in die ongeluk verloor het nie,” vertel Sanette.

Sanette vartel dat Jamie se wonde nog moet genees en dat hy sowat drie weke nog in die hospitaal gaan moet deurbring.

“Hy kry nie meer bloed nie en het op Dinsdag, 8 Julie vir die eerste keer met sy rolstoel uit die hospitaal gery. Hy het nog ‘n lang pad van herstel wat voor hom lê en moet weer belangstelling in dinge kry sodra hy beter en minder deurmekaar is van die medikasie.

“Daar is soveel mense wat ek wil bedank dat dit nie moontlik is om name te noem nie. Aan al die mense wat ons in gebede dra en saam kom bid en besoek aflê, tot die mense op die ongeluk toneel en hulp daarna, aan julle is die woord dankie nie genoeg nie maar dit beteken meer as wat in woorde gesê kan word,” het Sanette gesê. ‘n Vriend van die familie, Tanya Lordan het intussen ‘n hulpfonds vir Jamie en sy gesin gestig om te help met die hospitaal en ander onkoste. Persone wat graag ‘n bydrae wil lewer kan vir Tanya skakel by 082 771 4091.

Exit mobile version