Local NewsNews

3 bergklimmers van Wolkberg af gered

Drie bergklimmers moes Maandag deur reddingsspanne gered word by die Duiwel se Kneukels in die Wokberg naby Haenertsburg nadat een van die klimmers op 'n steil kruin vasgesit het.

POLOKWANE – Drie bergklimmers moes Maandag deur reddingsspanne gered word by die Duiwel se Kneukels in die Wokberg naby Haenertsburg nadat een van die klimmers op ‘n steil kruin vasgesit het.

Enrico Cloete, sy broer Chris en Martin Viljoen van Lephalale het Saterdag hul vier-dag staptog begin. “Ons deur die internet van die roete gehoor en op die eerste dag meesdal gestap en kamp opgeslaan vir die aand,” het Enrico vertel.

“Die volgende dag het ons weer begin stap en moes ons baie klim om die roete te volg. Toe raak ons water op en die naaste water was oor die kruin van die Duiwel se Kneukels. Ek het besluit om op te klim na die waterbron. Teen dié tyd was ons baie gedehidreer en het ek vasgesit op ‘n steilte.”

Hy het vertel hy kon nie verder klim nie en het sy broer en Viljoen gestuur om water by ‘n rivier wat terug op die roete was te gaan haal.

Enrico het Sondagaand op die kruin oornag. “Dit was so steil dat ek glad nie kon slaap die aand nie, ek was te bang ek rol en val in my slaap. Die nag wat ek daar gesit het, wil ek nooit weer in my lewe oorhê nie.”

Hy het homself aan twee groot klippe vasgemaak en gesit en gewag vir Viljoen en sy broer om terug te keer. Hy het niks van die twee gehoor nie en het deur die nag bekommerd geraak en besluit om die volgende oggend sy pa te bel en die wiel aan die rol te sit vir ‘n reddingspoging.

“Ek het daardie oggend toe die son opkom ‘n uitsig gehad wat min mense beleef. Ek kon net nie ‘n manier sien om self op of af te kom nie,” het hy aan Review vertel.

“Ons het ‘n kaart met die roete by die huis gelos en ek kon vir my pa verduidelik waar ek was.” Daarna het sy selfoon se battery pap geraak.

Enrico se pa, Phillip, het hulp ontbied.

Die Capricorn- en Mopani-reddingspanne is uitgestuur saam met die Limpopo-nooddienste se helikopter wat Viljoen en Chris van ‘n heuwel na veiligheid geneem het. ‘n Oryx-helikopter van die 19-eskader in Hoedspruit is ook ingeroep nadat die nooddienste-helikopter nie by Enrico kon uitkom nie.

“Jaco van Zyl het my ‘n uur en ‘n half later kom red. Hy het vir my ‘n energiedrankie gegee en ek was nog nooit in my lewe so bly om ‘n Powerade te sien nie,” het Enrico vertel.

Hy is vol lof vir die reddingspanne en is dankbaar dat hulle selfs sy ouers op hoogte gehou het en gerus gestel het dwarsdeur die hele reddingsoperasie.

“Almal is na Haenertsburg geneem waar hulle ondersoek is en behoorlik gehidreer is deur die reddingspanne. Hulle storie het ‘n gelukkige einde en al drie die stappers is veilig en lewendig terug in Lephalale,” het Adele van der Linde, woordvoerder vir die departement van gesonheid, gesê.

Luidens Van der Linde het die taktiese reddingspan ‘n waarskuwing uitgereik dat mense nie staproetes en bergroetes wat te gevorderd is moet aanpak sonder die nodige ervaring, fiksheid en vaardigheid nie.

“Bly op bekende stap- en bergklimroetes en maak seker dat die mense na aan jou presies weet waarheen jy gaan, wanneer jy die roete gaan begin en wanneer jy terug verwag kan word.”

Related Articles

Back to top button