‘n Trourok waarvan sy ‘net kon droom’

Die opgewondenheid was verlede Vrydag tasbaar in die aanpasstudio by Mengouchi Haute Couture toe Bernadine Hugo haar trourok gaan kies het.

POLOKWANE – Die opgewondenheid was verlede Vrydag tasbaar in die aanpasstudio by Mengouchi Haute Couture toe Bernadine Hugo haar trourok gaan kies het.

Die datum van die troue is 30 Augustus en Bernadine het vertel hoe opgewonde sy oor haar groot dag was.

Bernadine is verlede jaar met kanker gediagnoseer en sy en haar verloofde, Gert du Preez, moes die geld wat vir die troue gebruik sou word, vir haar behandeling en operasies gebruik.

Review het besluit om te help en met die hulp van verskeie borge in die stad, het Bernadine se droom oor ‘n sprokiestroue begin lyf kry.

Mengouchi Haute Couture borg Bernadine se trourok.

“Kanker is iets wat ek baie goed verstaan,” het Erika Mengouchi, eienaar van Mengouchi Haute Couture, gesê, “ek is opgewonde om vir Bernadine te help met ‘n sprokiestrourok vir haar mooiste dag.”

Erika het die vernietigende effek van kanker ervaar toe haar skoonma in Desember aan longkanker gesterf het. “Wanneer so iets oor jou lewenspad kom, besef mens waaroor die lewe eintlik gaan en leer jy om elke dag voluit te lewe,” het sy gesê.

Sy het ‘n soortegelyke trauma ervaar toe sy, agt jaar gelede net na die geboorte van haar seun, uitgevind het dat sy ‘n kankergewas ontwikkel het. Die gewas kon deur sjirurgie verwyder word.

Erika het vir Alusha-Art ‘n donasie gegee om tydelike Mengouchi logo “glitter tattoos” aan die publiek te verkoop. Alusha-Art verkoop hierdie “glitter tattoos” ten bate van die Lig vir Elmie-projek. Die Lig vir Elmie-projek is ‘n fondsinsameling vir Elmarie Kruger, wat ook met kanker gediagnoseer is.

“Die eerste ding wat ek opgemerk het van Bernadine, is dat sy ‘n positiewe, sterk mens is. Sy is stralend van positiwiteit en dankbaarheid. Daar is ook soveel mense wat haar wil help om haar droomtroudag ‘n werklikheid te maak.”

Mengouchi Haute Couture bied ‘n wye verskeidenheid matriek-, trou-, strooimeisie- en aandrokke om van te kies om enige spesiale geleentheid in ‘n sprokie te omskep.

Bernadine het haar droomtrourok sommer met die oogopslag raakgesien waar dié rok tussen 200 ander rokke gehang het. Nadat sy ‘n paar ander rokke aangepas het, het sy telkens teruggekeer na daardie één droomrok.

Erika het verduidelik Bernadine se rok is van spierwit sagte chiffon gemaak met fyn Franse kant wat delikaat versier is met meer as 1 000 perlemoenkleurige Swarovski-kristalle.

“Dit is vir my ‘n eer om Bernadine se mode-ontwerper te wees en een van my unieke ontwerpe beskikbaar te stel vir haar troudag,” het sy gesê.

“Bernadine weet sy hou van iets wat bie-tjie blink, maar sy wil nie oorboord gaan nie en wil baie vroulik vertoon. Die rok wat sy gekies het, het met die eerste aanpasslag soos ‘n handskoen gesit. Haar gesig het opgehelder toe ons die prentjie voltooi het met ‘n sleep.”

Erika het gesê sy en almal by Mengouchi Haute Couture het die wêreld se respek vir Bernadine.

“Sy is beeldskoon, nie net van buite nie, maar van binne ook. Ons is ook beïndruk met haar familie wat haar so wonderlik bystaan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version