Bekende help Tiaan om beter te sien

Op 5 Junie, sal bekende gospel-sanger, Dewald Gouws 'n liefdadigheidskonsert ten bate van Tiaan Bouwer (8) aanbied.

POLOKWANE – Op 5 Junie, sal bekende gospel-sanger, Dewald Gouws ‘n liefdadigheidskonsert ten bate van Tiaan Bouwer (8) aanbied.

Tiaan se ouers, Deon en Martelize, behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en kon nie die operasie laat doen voordat hulle nie genoeg geld daarvoor ingesamel het nie.

Dewald het aangebied om die wins van sy CD se vrystellingskonsert in Polokwane aan Tiaan te skenk om sy mediese koste te dek.

Ongelukkig was die eerste beskikbare datum waarop die konsert gehou kon word eers op 5 Junie en Tiaan se operasie moes vroeër gedoen word.

Martelize se werkgewer, Freek Nel van Data Inn, het besluit om geld voor te skiet sodat die operasie kon plaasvind. Die geld wat dus nou ingesamel gaan word deur Dewald se konsert gaan aan Freek terugbetaal word.

Tiaan is op 13 Mei geopereer. Review het hom na die operasie besoek om te sien hoe dit gegaan het.

“Ek het net tot een getel, toe slaap ek,” het Tiaan oor die narkose gesê. Hy het ook vertel dat hy glad nie pyn ervaar het nie.

“Die narkose het hom bietjie siek gemaak en hy was effens aggressief toe hy wakker word, maar alles het goed afgeloop,” het Martelize gesê.

Tiaan moes die volgende oggend weer die oogspesialis besoek sodat die dokter kon sien of sy oog na wense genees.

Verlede Maandag was hy weer terug by die skool by Laerskool Pietersburg-Oos, waar hy in gr. 2 is.

“Ek wou graag teruggaan skool toe, dit is vervelig by die huis,” het hy gesê.

Exit mobile version