Local NewsNews

Jacques Nell praat oor tyd in die tronk

Jacques Nell, voormalige sakeman van Polokwane, het onlangs 'n paar weke agter die tralies deurgebring na sy inhegtenisneming op 19 Februarie in Pretoria.

POLOKWANE – Jacques Nell, voormalige sakeman van Polokwane, het onlangs ‘n paar weke agter die tralies deurgebring na sy inhegtenisneming op 19 Februarie in Pretoria.

Nell het in die Polokwane landdroshof verskyn op twee klagtes van bedrog.

Na die weiering van sy borgaansoek op Donderdag 6 Maart, is Nell van die polisieselle na die Polokwane gevangenis verskuif en hy het daar gebly tot ‘n dringende borgaansoek in die Gauteng-Noord hooggeregshof toegestaan is op 19 Maart.

Nell het opmerklik baie gewig verloor oor die afgelope paar weke.

In ‘n ekslusiewe onderhoud met Review voor die hofverrig-tinge van 4 April, waartydens sy hofdatum uitgestel is na 9 Mei, het Nell vryelik met Review gesels.

Hy het vertel dat die kos in die gevangenis “nie te erg is nie”, en dat hy later slegs van die baie stysel uitgesny het.

“Die hoeveelheid kos was voldoende. Ek was in die weermag, en daarna kan mens enige iets eet,” het hy gesê. Hy het vertel dat hy van pap hou, “maar nie elke dag nie”.

Nell het gesê dat hy tweemaal per dag vir van die gevangenes ‘n kerkdiens gehou het, en die laaste Sondag in die gevangenis selfs nagmaal gehou het, “met Marie biscuits en water, want ek is nie Jesus wat water in wyn kan verander nie”.

Hy het gevra dat mense enige ongebruikte Bybels, veral in Engelse en Afrika-tale, na die gevangenis moet neem, aangesien daar ‘n groot behoefte daaraan is.

“Daar is ongeveer 10 Bybels beskikbaar vir al die gevangenes saam,” het hy gesê.

“Die meeste van die gevangenes is Zim-babwiërs en jong mans,” het Nell vertel. Hy het gesê hy het groot simpatie vir mans wie se sake telkens uitgestel word en wie, volgens hom, vir geringe bedrae of kos wat gesteel is, in die gevangenis sit.

“Mens sien baie ellende in die gevangenis. Soms sit die gevangene van een tot drie maande vir gesteelde items ter waarde van net R32.”

Nell sal weer op 9 Mei in die hof verskyn wanneer ‘n datum vasgestel sal word vir wanneer sy strafsaak sal verskuif en in Pretoria sal voorkom.

Related Articles

Back to top button