W’burg hou Shavathon om Trompie te onthou

In die eerste van sy soort in die geskiedenis van Westenburg, is 'n Kansa Shavathon Saterdag ter herdenking van Trompie Hartlief by die Westenburg Sekondêre Skool aangebied.

In die eerste van sy soort in die geskiedenis van Westenburg, is ‘n Kansa Shavathon Saterdag ter herdenking van Trompie Hartlief by die Westenburg Sekondêre Skool aangebied.

Shaamdré “Trompie” Hartlief het aan die begin Maart sy stryd teen kanker verloor.

Meer as 150 mense het die Shavathon ondersteun. Die doel van die dag, was om geld in te samel om minder bevoorregte kankerpasiënte te help deur Kansa te ondersteun.

Kadré Hartlief, Trompie se ma, het Sondagmiddag ‘n bedrag van R9 040, wat by dié Shavathon inge-samel is, aan Ria du Plessis, gemeenskapskoördineerder van Kansa, oorhandig.

Verskeie inwoners van Westenburg het gesê die dag was ‘n reuse sukses en moet ‘n gereelde instelling word.

“In Westenburg was daar die afgelope paar maande baie van ons mense wat aan kanker dood is en daarom is hierdie dag so spesiaal. Bo en behalwe die geld wat ingesamel is, bring dit ook die gemeenskap bymekaar,” het Lucresia Antonio gesê.

Die mense het nie net hulle hare gespuitverf en afgeskeer by hierdie byeenkoms nie. Dit was ‘n behoorlike gemeenskapsbyeenkoms met verskeie stalletjies wat kos, koeldrank, kolwyntjies en nog vele meer te koop en te drink aangebied het.

Daar was ook musiek en ‘n dansvloer vir die wat wou dans. Vir die kinders was daar ‘n springkasteel en ‘n rit op ‘n vierwielmotorfies.

Daar was ook ‘n lootjietrekking en die pryse was:

• Vier spa-geskenkbewyse van Eltsha Guesthouse and Spa;

• ‘n R100-geskenkbewys van Westenburg Café;

• Tien karwas-geskenkbewyse van Extreme Trade Cleaners;

• Drie geskenkbewyse van Upper Cut Barber, en

• ‘n Nedbank-geskenkpakkie.

Die Polokwane Bikers het ook die geleentheid ondersteun.

“Baie dankie aan elkeen wat die dag bygewoon het, ‘n kaartjie gekoop het en ‘n stalletjie opgesit het. Baie dankie aan die Polokwane Bikers en al ons borge,” het Cheryllee Hannam, organiseerder, gesê.

Exit mobile version