CrimeNews

Flink verkeerspolisie trap dief se tjank af

Fred Nel het Saterdag voor die Super Rugby opwarmingswedstryd tussen die Vodacom Bulls en DHL Stormers, sy motorfiets in die veld noord van die Peter Mokaba Sportkompleks geparkeer.

POLOKWANE – Fred Nel het Saterdag voor die Super Rugby opwarmingswedstryd tussen die Vodacom Bulls en DHL Stormers, sy motorfiets in die veld noord van die Peter Mokaba Sportkompleks geparkeer.

Na die wedstryd het hy teruggekeer na die parkeerplek, net om te vind sy wit en rooi veldfiets was nêrens te sien nie.

“Ek en my vriend, wat saam met my gery het, het die wêreld platgeloop op soek na die motorfiets, maar dit was beslis nie waar ons dit gelos het nie,” het hy aan Review vertel.

Volgens Nel was die 250cc motorfiets sy enigste vervoermiddel. “Ek het dit sowat ‘n jaar en drie maande gelede gekoop,” het hy gesê.

Nel het vertel hy was baie moedeloos en het na verkeersbeamptes, wat besig was om die verkeer te reguleer na afloop van die rugbywedstryd, gestap om die diefstal aan te meld. “My hart was baie seer en ek was baie kwaad.”

By die beamptes aangekom, het hy sy storie vertel, net om te hoor sy motorfiets was wel gesteel, maar dat die diefstal gefnuik is.

Die verkeerspolisie het hom meegedeel dat die verdagtes reeds agter slot en grendel was.

“Die verkeersbeamptes het blykbaar gesien hoe twee mense ‘n motorfiets stoot.

“‘n Beampte het gemerk dat die motorfiets nie ‘n sleutel in het nie en wou ondersoek instel. Die twee het toe kamma die motorfiets (tevergeefs) met ‘n ander sleutel aan die gang probeer kry.

“Een het sy rieme styfgeloop, want hy is op die toneel in hegtenis geneem. Die ander verdagte het weggehardloop,” het Nel vertel.

Die verkeersbeamptes het Nel en sy vriend na die polisie-stasie geneem, waar hy ‘n verklaring moes aflê en ook sy motorfiets moes identifiseer.

“Hulle wou eers nie my motorfiets vir my teruggee nie, aangesien dit as bewysstuk moes dien, maar het gelukkig van besluit verander toe ek aan hulle verduidelik dat ek geen ander vervoer het om by die werk te kom nie.”

Nel het gesê hy het baie waardering vir die beamptes se flinke optrede. “Ek is so dankbaar my fiets is teruggevind.”

Teen druktyd kon die polisie nog geen inligting gee oor die hofverskyning van die man wat in hierdie verband in hegtenis geneem is nie.

Related Articles

Back to top button