Local NewsNews

Klein fietsies is groot besigheid

Hy mag nou wel nie met hulle in die verkeer ry nie, maar dit keer Quintin Baker nie om op Sondae sy klein motor-fietsies te laat brul nie

POLOKWANE – Hy mag nou wel nie met hulle in die verkeer ry nie, maar dit keer Quintin Baker (20) nie om op Sondae sy klein motorfietsies te laat brul nie.

Hierdie oud-Pietie het sy stokperdjie in ‘n besigheid omskep. Hy koop minituur motorfietsies aan, bring verbeteringe aan en verkoop die motorfietsies weer. Mense wie se motorfietsies probleme gee, neem dit ook na Quintin toe om herstel te word.

“Ek werk eintlik vir my pa. Ons maak huise, soos die HOP huise, van PVC,” vertel hy. “Ek spandeer baie tyd met my motorfietsies ook wanneer dit stil is by die werk.”

Hy vertel hy het van kleintyd af van motorfietse gehou, maar dat die motorfiets-gogga hom ongeveer twee maande gelede ernstig gebyt het. Op die oomblik het hy nege motorfietsies in sy motorhuis.

“Ek het eers afstandbeheerde motortjies gery en ook vliegtuigies gevlieg. Ek het ook motorcross gery. My neef behoort aan ‘n klub vir die klein motorfietsies en ek het besluit om ook een te stig in Polokwane. Ek noem dit die QB-racing club en lede sal bekend staan as QB-racers.”

Quintin verduidelik dat dit nie ‘n vreeslike duur stokperdjie is nie. “‘n Nuwe fiets kos min of meer R2 000 en ‘n mens spandeer nie so baie daarop nie.”

Die lekkerste en ook moeilikste ding van sy stokperdjie is om aan wedrenne deel te neem. “Al die fietse kan dieselfde spoed bereik, so mens wen met tegniek en nie spoed nie,” sê hy. Quintin is gek oor die adrenalien van die sport en sê hy ontspan langs die baan.

Op 20 Oktober gaan Quintin en sy span by Swartkops aan die nasionale kampioenskappe deelneem. Hulle oefen elke Sondag om voor te berei vir hierdie groot geleentheid.

Related Articles

Back to top button