BlogsOpinion

KATROLKOORS: Swartbaarshengel: Struktuur en skuiling

SOOS in enige vak is daar verskeie terme in swartbaarhengel en wat redelik baie gebruik word is terme soos "struktuur" en "skuiling".

SOOS in enige vak is daar verskeie terme in swartbaarhengel en wat redelik baie gebruik word is terme soos “struktuur” en “skuiling”. Laasweek het ons gesien dat struktuur te doen het met die vorm van die dam se bodem en alles wat die vorm beïnvloed.

Die tweede wegkruip-plek wat vir swartbaars belangrik is, is “skuiling”. Hiermee word oor die algemeen verwys na enige vorm van plantmateriaal (binne en buite die water) asook enige mensgemaakte voorwerp. Hou in gedagte dat swartbaars roofvisse is, wat hulle prooi voorlê en enige iets wat vir hulle skuilplek kan bied is ‘n goeie hengelarea. Kom ons kyk na voorbeelde en hoe om dit te benader:

• Plantmateriaal:

Grootbekswartbaars wat meer verspreid voorkom verkies om naby plantmateriaal te skuil en te jag, terwyl kleinbekswartbaars, wat hoofsaaklik net in Ebenezerdam gevind word, klipperige, diep water verkies.

Die grootbekke verkies die donker skadukante van grasbanke, waterlelies, boomtakke wat laag oor water hang, riete en biesies, boomwortels, drywende stompe, ensovoorts.

• Mensgemaak:

Mensgemaakte voorwerpe wat goeie skuilplek bied is betonpilare, geboude mure, damwalle, jetties, drywende boeie, seiljagte, selfs buite-bande en draadheinings wat in die water inloop. Van al die soorte skuilings is enige horisontale skuiling, soos gras wat dryf, ‘n beter opsie as vertikale skuilings.

• Benadering:

Ons het alreeds met ‘n vorige keer die belangrikheid van waterplante en veral gras bespreek. In sulke skuilplekke sal ek met swaar gerei hengel, dit wil sê 17lb fluorocarbon vislyn, sagte plastiese kunsaas en ‘n stewige sewe-voet stok. Waterplante is nie drie-angelhoek-vriendelik nie en is dus nie aan te beveel nie. Daar is wel sekere harde plastiese kunsvissies met drie-angelhoeke soos liplose “crank baits” en ander met vierkantige lippe wat in ‘n mate deur die takke en gras kan swem. ‘n Wonderlike teiken area is enige stomp wat skuins in die water lê.

Dit is raadsaam om teen ‘n hoek van 45º die areas te hengel. Gooi die aas uit na die vlak-water en bring dit terug na die diepwater – dit is tog hoe klein vissies sal optree.

Indien daar mure of steil walle is, moet ‘n paar gooie parallel met die skuilings gemaak word. Die probleem is egter dat hengelaars te vinnig hengel en die aas nie regtig kans kry om natuurlik te swem óf selfs te sink nie.

“Voetsoldate” sal ‘n ander benadering volg. Dit gebeur gereeld dat iemand baie opgewonde na die water stap net om te sien hoe ‘n mooi vis hier tussen sy voete wegskiet diep water toe. Daarom is dit belangrik om terwyl jy nog ‘n paar tree weg is vanaf die water, jou eertse gooi te maak na die plek waar jy van plan is om te gaan staan. Moet nou nie aas op die vis se kop gooi nie! Gooi die aas altyd ‘n ent verby jou teiken area. Indien daar niks gebeur nie, stap rustig nader, verkieslik met iets in die agtergrond wat jou silhoeët kan breek en maak dan verskeie gooie van links na regs. Die Engelsmanne praat van “fan cast”. En so werk jy teen die oewer af. Let wel: Jy is nie die enigste een langs die water nie. Pofadders hou ook daarvan om naby water te wees. Dra dus beskermde klere en skoene. Behalwe vir slange is daar ook morsjorse wat bottels en blikke in die water gooi.

Wenk van die week:

Seekoeie is ‘n groter gevaar vir hengelaars as krokodille. Indien daar seekoeie in die water is waar jy wil hengel, en veral as daar kalfies by is, is dit ‘n baie groot “NO GO” area.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

 

Lees meer:

KATROLKOORS: Swartbaarhengel is meer as net aas uitgooi

KATROLKOORS: ‘n Kouefront maak nie net die mense lui nie

KATROLKOORS: Visse moet ook asemhaal

KATROLKOORS: die regte aas, maar hulle byt nie?

KATROLKKORS: Die regte kunsaas vir swartbaars

KATROLKOORS: Regte metode vir ‘catch and release’

KATROLKOORS: Hê respek vir jou visvangomgewing

KATROLKOORS: Die beste lyn om te gebruik vir swartbaars

KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

KATROLKOORS: Swartbaarhengel regdeur die jaar

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button