Editor's noteLocal NewsNews

Hy trap diep spore in vermaakbedryf

In die Afrikaanse musiekkringe is die naam Riaan Grobler baie bekend, met liedjies soos 'Die hemel gooi sy sterre' en 'Was dit dalk te laat'.

POLOKWANE – In die Afrikaanse musiekkringe is die naam Riaan Grobler baie bekend, met liedjies soos ‘Die hemel gooi sy sterre’ en ‘Was dit dalk te laat’.

Sommige inwoners van Polokwane ken hom persoonlik, veral onderwysers wat al jare lank in die stad skoolgee.

“Ek is in Polokwane gebore waar ek in 1998 my skoolloopbaan voltooi het by Hoërskool Pietersburg. My ouers en een van my drie sussie bly steeds in Polokwane. Ek het drie sussies, en al drie is ouer as ek,” sê Riaan.

Riaan vertel dat sy eerste optrede as musikant reeds op driejarige ouderdom in die kerk was. “Dit is waar my liefde vir die verhoog begin het, en dit het net gegroei. Toe ek 14 was het ek begin om aan verskeie sangkompetisies deel te neem.”

Hy het na skool drama studeer by die Tshwane universiteit van tegnologie en sing professioneel van 2000 af.Hy het sy eerste professionele CD in 2006 uitgebring.

Riaan is nou radio-omroeper by GrootFM waar hy deel is van die Saterdagprogram. Hy vertel dat hy vandat hy kon onthou ‘n omroeper wou word.

“Dit is eintlik ‘n oulike storie,” vertel hy. “Toe ek seker so vyf of ses jaar oud was, was die fliek ‘Honey, I shrunk the kids’ baie gewild en ek’t vas geglo daardie masjien is by die Uniegebou in Pretoria en die president verander mense met die masjien in bitter klein mannetjies wat dan in radios gesit word. Ek’t eintlik gedink elke radio het sy eie klomp lewendige mannetjies in. Op ‘n dag het ons huishulp my ma se bedradio laat val en ek’t gedink al die radio-mannetjies is dood. Hierdie droom om ‘n radio omroeper, akteur en sanger te word het my altyd bygebly. In my tweede jaar van dramaskool het ek ‘n oudisie afgelê by Rippel 90.5 in Pretoria. Ek het toe al verskeie kere op skool by Janie Wierenga ingesit toe sy by JacarandaFM gewerk het en sy het my die tegniese deel van radio geleer en laat oefen. Toe ek die oudisie by Rippel 90.5 doen, het ek ‘n voorsprong gehad van jare terug se oefening, ek het die werk gekry en deeltyds begin uitsaai. Deeltyds het permanent geword en nou is ek al 10 jaar in die radiobedryf,” sê Riaan.

Hy vertel hy onthou sy eerste dag op die lug baie goed. Die stasiebestuurder het een oggend gebel en gesê sy omroeper is siek en gevra of Riaan kan instaan van 12:00 tot 16:00. Van daar af het hy al hoe meer ingestaan vir ander omroepers en later sy eie Saterdagprogram gekry voor hy permanent agter die mikrofoon ingeskuif het.

Vroeg in sy loopbaan is Riaan gekonfronteer met depressie. Hy het egter ‘n kopskuif gemaak en besluit hy gaan elke probleem op sy eie hanteer, dadelik aanvaar wat hy nie kan verander nie en aangaan met sy lewe.

“Ek het nog nooit gevoel ek wil opgee nie. Daar is soms dae wat dit verskriklik frustrerend is en die musiekbedryf is ‘n moeilike bedryf, maar my ma het my gereeld moed in gepraat en my laat glo in myself,” sê Riaan.

Riaan vertel daar is soveel om op trots te wees, soos al sy eerstes. Sy eerste TV optrede, sy eerste optrede voor 25 000 mense, sy eerste CD kontrak, die eerste keer wat hy gesien het mense sing sy liedjies saam en sy eerste verhoog rol.

“Die hemel gooi sy sterre is my gunsteling liedjie. Sarah Theron het dit geskryf en dit het vir baie mense ‘n persoonlike betekenis. Ek skryf ook my eie musiek, maar sal my nie uitlaat as ‘n skrywer nie. Ek is goed met lirieke, maar my melodië is soms te dramaties.”

Een van die moeilikste liedjies wat Riaan al ooit moes sing is ‘Mi Amore’, ‘n duet saam met Rinél Day.

“Toe sy dit stuur het ek gedink sy is laf, maar na ‘n paar oefeninge is dit my gunsteling liedjie op die nuwe album wat in Augustus verskyn,” sê Riaan.

Hy het ook al duette gedoen saam met ander sangers soos Juanita du Plessis en David Fourie. Die optrede wat hy altyd sal onthou is die een by Carnival City in 2010 saam met Carike Keuzenkamp.

Riaan vertel dat sy ma hom motiveer en sy pa hom inspireer.

Hy het twee worshond-kinders, Timmy en Noeshca en hy droom daarvan om eendag in die Royal Albert saal in Londen te gaan optree.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button