Editor's noteLocal NewsNews

Helpende Hand se topbejaarde: Stem vandag vir oom Erik Bekker

Van jongs af het Erik Bekker (74) geleer dat daar mense in die lewe is wat dit nie altyd breed het nie. Hy is lid van Solidariteit Helpende Hand en is onlangs genomineer as 'n Silwerkroon-finalis.

POLOKWANE – Van jongs af het Erik Bekker (74) geleer dat daar mense in die lewe is wat dit nie altyd breed het nie.

As hy nou terugdink onthou hy die maatjie op skool waarvoor sy ma elke dag kos ingepak het en hoe die ander kinders hom gespot het.

“Ek is na die Tweede Wêreldoorlog in Meyerton gebore en het daar grootgeword. Dit was arm jare. Mense het werk gehad, maar daar was nie eintlik geld nie. My ma het maar altyd gehelp waar sy kon en so het ek ook geleer om dit te doen,” vertel hy waar ons in sy sitkamer sit en gesels.

Hy noem terloops dat hy onlangs ‘n heupvervanging gehad het.

“Deur die jare het ek dieper in die samelewing begin kyk. As ek iemand sien loop waar die armoede duidelik sigbaar is, wonder ek altyd wat het in dié persoon se lewe gebeur?

“Elke persoon is gemaak om iets te kan doen. God maak nie gemors nie.”

Erik is getroud met Susan en hulle is die trotse ouers van drie en grootouers van twee tiener seuns. Na jare in die kommunikasiewese, kom tree hy in Polokwane af en raak betrokke by dit wat hom so na aan die hart lê, gemeenskapsprojekte.

Hy is lid van Solidariteit Helpende Hand en is onlangs genomineer as ‘n Silwerkroon-finalis.

Silwerkroon is ‘n eer vanaf Solidariteit Helpende Hand aan bejaardes wat in die afgelope vyf jaar hul medemens of gemeenskap versterk het in areas soos die jeug en opleiding, ekonomiese geleenthede, werkskepping, voedselverbouing en -voorsiening, noodbystand en menseregte. Hulle wil aan mense hul menswaardigheid gee en jong mense oplei om te werk. Erik vertel dat dit ‘n probleem is om jongmense in die arbeidsmark te kry.

“Ek het dit nie gekies nie, ek is genomineer. Ek werk gewoonlik in cognito, mense hoef nie te weet wat ek doen nie. Ek doen dit vir die saak van die Here.”

Erik vertel dat hy betrokke is by onder andere twee toevlugsoorde waar hulle mense leer om weer op hul eie voete te kan staan, ook skakel en besoek hulle ouers wie se kinders hulle afgeskryf het. Elke tweede Woensdag word daar ook kospakkies uitgegee by die N.G.-Oos gemeente, waar hy aktief lid is.

“Ons wil graag ouer mense motiveer om betrokke te raak. Dit gee ‘n mens hoop om ander te kan help, veral as jy ‘n stukkende mens kan help. Jy as mens bou deernis op. Dit is hartseer as jy op Moedersdag ‘n pakkie aan ‘n ma gee en sy vertel jou dat haar kinders haar nog nie eers gebel het nie. Of as ‘n kleuter grootword in ‘n 6m² kamer en daar op sy stukkende skopfiets speel. Dit is swaar as mense met kwalifikasies, vaardighede en ondervinding nie werk kry nie. Jy moet hulle hoop gee, help waar jy kan.”

Om vir Erik te stem as Silwerkroon, SMS “Kroon 4” na 38969.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button