Editor's choiceNewsSchools

Staatmaker-onnie vier 40 jaar

Van onderwysmetodes van toeka tot nou kan jy vir juffrou Rita van der Merwe min leer.

POLOKWANE – Van onderwysmetodes van toeka tot nou kan jy vir juffrou Rita van der Merwe min leer.

Dié staatmakeronnie het onlangs haar 40ste jaar van onderwys by Hoërskool Pietersburg (PHS) voltooi en vertel dat sy al die “dinge in die boek” tydens haar onderwysloopbaan geleer het.

Haar klaskamer op die eerste vloer van die tweeverdiepinggebou by die skool wat oor slegs ‘n paar jaar sy 100ste verjaardag vier, het verskeie leerders sien in- en uitstap. “Ek het al die soorte kinders al in my klas gesien en het vinnig geleer om spesiale aandag te gee aan die karnallies in die klas – daardie kind wat met die intrapslag jou reeds by die deur al uitdaag,” vertel Rita. Dit was haar ondervinding dat juis die “moeilike” kinders in die klas dié is wat later terugkom en dankie sê dat jy as onderwyser nie opgegee het nie.

Rita het in 1974 in Sandra begin skoolhou het waar sy aardrykskunde vir die hele skool aangebied het. Sy is die volgende jaar na PHS verplaas waar sy kinders in verskeie vakke onderrig het en in 1980 het sy begin om net aardrykskunde aan te bied. Sy vertel dat sy gebore is met ‘n liefde vir onderwys.

“My ouers het altyd gedink ek het maatjies as hulle my hoor praat het, maar dan is ek besig om van baie klein af skool te gee vir niemand voor my nie,” vertel sy.

Sy vertel dat haar vak nie ‘n moeilike een is om aan te bied nie want dis ‘n vak wat heeldag rondom ‘n mens is. “Jy sien die son, wolke of dit reën en dit alles is niks anders as aardrykskunde nie,” vertel sy.

Haar raad aan onderwysers is om ‘n vak met oorgawe en entoesiasme aan te bied, “anders gaan die leerders nie van die vak hou nie”.

Die een ding wat sy graag aan nuwe onderwysers wil oordra is om te probeer om al die toertjies in die boek te leer en veral aandag te gee aan die kinders wat moeilik is.

“Wen die vertroue van daardie kinders, dit help met die dissipline in die klas en help met die oordra van die vak en die verstaan van die vak sonder onderbreking,” vertel sy.

Volgens Rita is een van die kwaliteite waarsonder ‘n onderwyser nie kan klaarkom nie, geduld. As onderwyser moet jy baie fyn oplet na die gedrag en welstand van die kinders.

Een van haar gesegdes is dat ‘n probleemkind, probleemouers het en wanneer ‘n onderwyser dit nie verstaan nie gaan die kind van twee kante gebreek word en nie gebou word nie.

Haar grootste begeerte vir elke kind is om ‘n persoonlikheidsgroei te kan sien en te sien dat die kinders doelwitte het.

“Iets wat ek nooit sal vergeet nie, is die manier waarop leerders in die skool gesing het. Leerders vandag sing nie meer soos in daardie tye nie en ek mis dit. Maak nie saak wat die skool gesing het nie, ‘n mens het hoendervleis gekry en as iemand wat wat so lank al deel is van die skool, mis ek dit baie,” vertel sy.

Vandag se leerders verskil baie van die leerders daardie tyd toe sy begin skoolgee het, vertel sy, “dit wil voorkom asof leerders vandag bang is vir hulle eie stemme en meer gesteld is op tegnologie as hulself”.

“Ek noem hulle ‘skermpiekinders’. Die kinders het baie meer respek gehad vroeër jare. Deesdae is daar minder kinders wat regtig wil leer en belangstel in die skool en werk,” vertel sy.

Die groot les wat sy geleer het in haar onderwysloopbaan is om meer te luister, en sy sê dat ouers en ander personeel dit ook meer moet toepas. “Luister is iets wat soveel deure oopmaak, dit maak soveel dinge duideliker wat nie moontlik sou wees as wanneer ‘n mens nie luister nie,” vertel Rita.

Buiten skoolhou was sy ook baie betrokke by netbal en onder haar afrigting was daar ‘n hele paar kampioene en wenspanne. ‘n Oud-leerder vir wie sy geskiedenis gegee het, het self ook ‘n geskiedenisonderwyser geword en sy het selfs vir die bekende Schalk van Schalkwyk ook klas gegee.

Sy vertel dat sy haarself uitdaag sodra sy iets aanpak. By die huis is sy meer ma as onderwyser en konsentreer daarop om daar te wees vir haar eie kinders.

Onder haar ander mylpale was die skryf aan handboeke vir die skool, asook ‘n diploma in rekenaarwetenskap en drie meriete- toekennings. Op persoonlike vlak het sy ook ‘n stryd teen kanker gevoer. Haar 2007-oorwinning oor kanker het haar laat verander van hoofsaaklik werk-oriënteerd na meer familie-oriënteerd.

Volgens Rita is elke mens verantwoordelik vir sy eie toekoms en hoe harder jy werk, hoe beter is die vrugte wat jy pluk. Haar lewe is die bewys juis hiérvan.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button