Bosveld NewsNews

Potjies prut, almal kuier saam vir DBV

BYNA 200 mense het verlede Saterdag gedeel in die pret van Casa Feliz se potjiekoskompetisie ten bate van 'n fondsinsameling vir die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV).

MOKOPANE – BYNA 200 mense het verlede Saterdag gedeel in die pret van Casa Feliz se potjiekoskompetisie ten bate van ‘n fondsinsameling vir die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV).

Altesaam 20 spanne het vroeg Saterdagmiddag die vure aangesteek en meegeding om ‘n wen-potjie met murgsagte vleis en groente aanmekaar te flans.

Rudi Brits, takbestuurder by Checkers Mokopane, het as bobaas potjiekos-meester uit die stryd getree met sy heerlike biltongpotjie. Brits wen ‘n naweek weg by die bekende Boabab wildreservaat, ‘n haarsny by Real Solutions haarsalon, twee kaste bier en hy spog met die Casa Feliz wisseltrofee.

Brits sê, “ek het ‘n liefde vir kosmaak, maar dit was die eerste keer wat ek die biltongpotjie aanmekaar geslaan het en ek is heel trots op die eindproduk.” Hy bedank ook Casa Feliz vir die wonderlike pryse en sê hy sien die meeste uit na sy naweek by die Baobab wildreservaat.

Die kinders het baljaar op ‘n yslike glybaan en gaskunstenaars Mia Louw en Ruan Wepener het gesorg vir ‘n propvol dansbaan tot laat die aand. Elita Jansen van Vuuren, mede eienaar van Casa Feliz, bedank almal wat die dag ondersteun het en vir hul bydrae tot die reuse sukses. “Ons beplan om volgende jaar nóg groter te gaan!”

Yolanda Beetge, Antonie en Elita Jansen van Vuuren, mede eienaars van Caza Feliz, het Maandagmiddag die geld wat hul Saterdag ingesamel het aan Marcelle Maritz, DBV bestuurder, oorhandig. Maritz bedank Beetge en die Jansen van Vuurens vir hul ondersteuning, asook almal wat die dag bygewoon het.

Nie net is Maritz dankbaar vir die donasie nie, maar sy bedank ook die anonieme skenker vir die komberse, “dit kom baie handig te pas by die DBV.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button