Editor's choiceNewsSchools

Werk en Wen se Juffrou Monica Strauss glo skool is meer as net ‘n plek waar kinders bymekaarkom

Juffrou Monica van Werk en Wen Pre-primêre Skool het 'n diep liefde vir kleuters en dié gevoel is beslis wederkerig.

POLOKWANE – Juffrou Monica van Werk en Wen Pre-primêre Skool het ‘n diep liefde vir kleuters en dié gevoel is beslis wederkerig.

Monica is gebore en getoë in Upington, en die Kalahari en noordweste bloei ook deur haar are. Nadat sy vier jaar onderwys studeer het aan die Goudstad se Onderwyskollege (GOK) begin sy haar onderwysloopbaan by Tink-Tinkie Pre-primêre skool in Capital Park, Pretoria.

Dis hier waar Rosa Phillips, as hoof, haar eerste mentor word. Hierdie skool was ook verbonde aan ‘n kinderhuis.

Monica sê hier het sy baie hartseer beleef van jong kinders wat emosioneel en fisiek baie verniel is.

“Daar het ek besef watter verskil ‘n onderwyser in ‘n kind se lewe kan maak,” sê sy. Bykans drie jaar later trou sy met die liefde van haar lewe, Johan Strauss, en verhuis na Polokwane.

Hier is sy gekontak deur Miemie Posthumus vir ‘n aflospos by Suikerbekkie Kleuterskool.

Hierna volg ‘n aanstelling vir die volgende 13 jaar waar sy baie ondervinding opdoen, onder leiding van die Suikerbekkiespan, eers as Hasie-, Skilpad- en toe Leeutjie-klas juffrou.

In 2000 in samewerking met die Pietersburg Laerskool Beheerliggaam en Suidskool hoof Peet Bredenkamp word Werk en Wen Pre-primêre Kleuterskool gestig waar Monica vir die afgelope 15 jaar hoof is.

Monica het ‘n passie vir die kleuters se vorming tot skoolgereedheid en saam met haar wenspan van personeel is elke dag vir hul belangrik.

“Nie net om kleuters skoolgereed te kry nie, maar ook om hul as klein kleutertjies na volwasse wording te lei en hul te vorm na die beeld van ons Hemelse Vader,” sê Monica.

Sy vertel ook watter groot voorreg dit is om elke dag met die kleintjies te werk.

“Kleuters is vreeslik eerlik en opreg en as jy soggens voor daardie klomp mooi blink ogies sit en vir hul leer, vergeet ‘n mens van alles wat kan pla,” sê sy.

“Dit is egter ook ‘n groot verantwoordelikheid, nie net oor die veiligheid van elke kleuter nie, maar ook die rol wat jy as onderwyser in daardie kleuter se lewe speel, jy kan bou of breek,” sê Monica.

Indien ‘n kleuter gedissiplineer moet word, moet dit ‘n positiewe impak op daardie klein mensie hê, sê sy.

“Ek glo dat ‘n kind volgens die Bybel getugtig moet word, maar dat dit geensins ‘n onderwyser se taak is om aan ‘n kind te slaan nie. Hierdie Bybelse opdrag is slegs aan die ouers gegee,” sê sy. “Wanneer ‘n kleuter boelie moet daar opgetree word om ander kleuters te beskerm.

“Daar is gewoonlik iets wat so ‘n kleuter pla dan reël ons gewoonlik ‘n afspraak met die ouers, sit koppe bymekaar en doen dan wat die beste is vir die kleuter.

“Die beste is om hierdie kleuter te ‘wen’ deur met hom of haar ‘n band te vorm en ‘n pad te stap saam met die gesin,” sê sy.

Sy vertel van die kosbare tye deur die jare, die oulike sêgoed wat hierdie kleintjies kwytraak en ‘n voorval waarin hul die tema van insekte behandel het waar die kleuters die opdrag gekry het om ‘n insek in hul tuin te gaan soek en saam te bring skool toe.

Die seuntjie bring toe ‘n spinnekop met net ses bene skool toe, en juffrou vra: “Nou hoe het die spinnekop net ses bene?”, en hy antwoord: “Ek het twee afgebreek sodat hy ‘n insek kan wees juffrou.”

So is daar ontelbare voorvalle, sy kan nie een kleuter uitsonder wat ouliker as die ander was nie want almal is uniek, elkeen met sy of haar eie kosbare persoonlikheid.

Juffrou Monica sê haar groot mentor is haar Hemelse Vader en dat sy elke dag in Spreuke 2:6-7 se leuse glo.

“Dit is die Here wat die wysheid gee, uit Sy mond kom die kennis en die insig. Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.”

Monica se dogter, Christine, is self ‘n onderwyser waar sy in haar ma se voetspore volg.

“Dit is altyd vir ons baie snaaks as ons saam rondloop en gelyk omkyk as iemand roep: “Hallo, juffrou!”

Dit is lekker om te sien hoe ‘oud’-kleuters as jong mense ontwikkel het – sommiges nou met hul eie kleuters in Werk en Wen,” vertel sy.

Wanneer Monica wel ‘n bietjie vrye tyd het, stap sy graag lang ente langs die see, lees ‘n lekker dik boek, geniet haar gesin en haar liefling kat, Tjokkies en Jack Russell terrier, Daizy en verkeer graag kreatief deur te skilder.

“Onderwys speel ‘n groot rol in ‘n kind se lewe, veral op so ‘n jong ouderdom, want ‘n onderwyser kan ‘n kind afbreek of in die kind glo en hom of haar opbou tot ‘n kind wat tot baie instaat kan wees,” sluit sy af.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button