BlogsOpinion

KATROLKOORS: Regte metode vir ‘catch and release’

Swartbaarhengel is vir my 'n groot uitdaging. Om te weet daar is vis in die dam, ek het die nodige toerusting, ek dink ek het die nodige kennis, maar om die vis uit te oorlê... dit is nie altyd so maklik soos dit klink nie.

Swartbaarhengel is vir my ‘n groot uitdaging. Om te weet daar is vis in die dam, ek het die nodige toerusting, ek dink ek het die nodige kennis, maar om die vis uit te oorlê… dit is nie altyd so maklik soos dit klink nie. Die groen vissie het die vermoë om alle hengelaars nederig te hou. Sommige is net meer gereeld nederig as ander.

Maar! Wanneer die vis uiteindelik gevang word is dit nodig om die vis korrek te hanteer. Ons het laasweek gepraat oor respek en dit is ook hier van toepassing. Behandel die vis (natuur) met respek. Daar is ‘n regte en verkeerde manier om die vis te hanteer. Dit is verkeerd om die vis te gryp en orals aan die lyf te vat. Die vis het ‘n slymlaag wat afgevryf word. Al word die vis met die mees edele bedoelings vrygelaat is die vis nogsteeds in lewensgevaar. Onder andere beskerm die slymlaag die vis teen varswater bakterieë wat groot lelike swamme en swere op die vis se lyf veroorsaak. Soms is die aanslag so erg dat die vis uitteer en vrek… Soveel vir catch-and-release!

Nog ‘n simpel idee is om soos die Amerikaners op televisie, die vis in die boot in te “swing”. Die enigste rede hoekom hulle dit regkry is omrede hulle vissies so klein is. Plaaslik breek ons visstok se punte, die lyn kan breek en die vis kom weg, die hoek skeur uit die vis se bek, die vis swaai teen die boot vas, die vis val op die boot se mat en vryf sy slymlaag af – dit bly ‘n simpel idee!

Die korrekte manier om ‘n swartbaar te hanteer is om die vis aan die onderlip te gryp en te “lip-land”. Dit word gedoen met jou “slimhand”. Druk jou duim binne-in die vis se bek en knyp die vis se lip tussen jou duim en wysvinger vas. Maar jy moet vat! Enige ordentlike vis gaan hom nie sommer aan sy lip uit die water laat lig nie. Dit gaan ‘n geruk en geskud wees om weg te kom. In die proses kan die vis op die grond val, seerkry en sy slymlaag afvryf. Jy moet vat en vashou!

Groter visse moet verkieslik met ‘n net geskep word en dan aan die lip verder hanteer word.

Groot visse moet ook verkieslik met ‘n nat hand onder die pens ondersteun word, want ek dink nie ek gaan daarvan hou om vir paar minute aan my onderkaak te hang nie. Dink net hoe gaan my kakebeen voel en vir hoeveel dae gaan ek sukkel om te eet – nou ja, die arme vis ook.

Kry die vis vinnig uit die water, hanteer die vis op die regte manier, neem jou foto en laat die vis vry. Enige taksidermis wat sy sout werd is kan vir jou ‘n getroue replika maak met die nodige afmetings (gemeet van kop tot stert, asook die omtrek) tesame met ‘n paar goeie fotos om die regte kleur te kry. Hoekom? Geen boer slag sy stoetbul vir biltong nie; met ander woorde as jy vis wil eet, slag eerder die jonger vis en laat die stoetkoeie vry. Moet nie die vis met geweld teruggooi nie, die vis laat val nie, aan die lyf vat nie… nee, sit die vis versigtig terug vir ‘n volgende keer.

Die amptelike huidige Suid-Afrikaanse rekord is oor die 6kg, maar die meeste hengelaars vang vis in die orde van 800g. Indien jou swartbaar swaarder as 2kg weeg dan kan jy dit begin reken as ‘n groot vis en bokant 3kg is dit beslis ‘n trofee-grootte vis.

Wenk van die week:

Indien jy met drie-angel hoeke hengel is dit nie ‘n goeie idee om die vis te “lip-land” nie. As hy losruk, slaan die hoeke in jou vingers vas en is die hospitaal jou voorland. Gebruik eerder ‘n spesiale tang om die vis se kaak te gryp en haal die hoek met ‘n langbek tang uit.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button