Local sportSport

Limpopo se uitblinkergimnas

Op Saterdag, 6 Junie het Jeanie Hatzikyriacos (18) in Kaapstad aan die Nasionale Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasie (SAGF) kompetisie gaan deelneem en met drie medaljies weggestap.

POLOKWANE – Op Saterdag, 6 Junie het Jeanie Hatzikyriacos (18) in Kaapstad aan die Nasionale Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasie (SAGF) kompetisie gaan deelneem. Die enigste gimnas van Limpopo wat genooi is om aan die kompetisie deel te neem, het sy met drie medaljes weggestap, ‘n silwer vir vloer, ‘n brons vir brug en ‘n brons vir spronge.

Jeanie is ‘n leerder aan die Hoërskool Pietersburg (PHS) en ‘n vlak-sewe gimnas by Zani’s Gymnastics Academy, hulle is baie trots op haar prestasies in die gimnastiekwêreld.

“Jeanie het al sedert die ouderdom van vier haar talente in Zani’s Gymnastics gevind. Met baie harde werk, deursettingsvermoë en toewyding is sy vandag die mees gevorderde artistiese meisiesgimnas in Limpopo,” sê Zani Prinsloo, eienaar en hoof afrigter van Zani’s Gymnastics Academy.

Review het met Jeanie gaan gesels om uit te vind wat die geheim is tot haar groot sukses in hierdie sportdissipline.

“Toe ek drie jaar oud was het Zani’s na my kleuterskool gekom om gimnastiek aan te bied, ek kon dit nie eers behoorlik uitspreek nie, maar ek wou dit onmiddellik doen. My ma het selfs vir my op die TV gewys hoe gevaarlik dit is, maar die gimnastiekgogga het my klaar gebyt,” sê sy laggend.

Jeanie oefen tans drie keer ‘n week vir ‘n uur-en-‘n-half, sy oefen selfs by haar huis in haar vrye tyd.

“Mens kan seker maar sê ek leef vir die sport, ek sal graag so ver as moontlik wil gaan in die sport en daarna self afrig om nogsteeds betrokke te wees by gimnastiek,” sê Jeanie. Sy sê die uitdaging van gimnastiek is om fisiek maar ook emosioneel en geestelik sterk te wees, só is jy altyd voorbereid vir kompetisies.

“Ek het by my broer, Peter, geleer om hard te werk vir dit wat ek wil hê en om vas te byt, hy is ‘n groot inspirasie vir my,” sê Jeanie.

Tans oefen sy nogsteeds by Zanis onder die afrigting van Tanya Bouwman en sê haar afrigter is soos haar tweede asem in elke kompetisie.

“Ek rig Jeanie al die afgelope vyf jaar af, dit was nog net ‘n groot plesier en ek geniet elke oomblik saam haar,” sê Tanya.

“Ek het basies groot geword hier by Zani’s, ek hou van die omgewing en dit voel soos my tweede huis,” sê Jeanie.

Jeanie wil graag ‘n loopbaan in fisioterapie nastreef, sy geniet dit ook om tyd saam haar vriendinne te spandeer, om te oefen en om rustig te wees gedurende haar vrye tyd.

Sy sê haar grootste prestasies sover was haar tweede plek in brug by hierdie jaar se nasionale SAGF kompetisisie en haar eerste plek by laasjaar se nasionale SAGF kompetisisie vir spronge.

Aangesien Jeanie al amper klaar is met skool gaan sy haar loopbaan by Zani’s Gymnastics Academy na 14 jaar afsluit.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button