Local NewsNews

Stiaan (16) en Coetzee (6) sterf in botsing

Saterdagaand, kort na 22:00 het die lewe van die Van der Walt-gesin drasties verander.

POLOKWANE – Saterdagaand, kort na 22:00 het die lewe van die Van der Walt-gesin drasties verander.

Kobus van der Walt en sy twee seuns, Stiaan (16) en Coetzee (6), was vanaf hul plaas tussen Alldays en Musina oppad na Musina toe hulle in ‘n ongeluk betrokke was.

Stiaan was ‘n gr. 10 leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.

“My broer en die twee seuns het met die bakkie gery en ‘n sleepwa vol vullis gesleep toe hulle so 15km voor Musina teen ‘n blinde hoogte teen ‘n stilstaande bakkie gebots het.

“Die ander voertuig was nie duidelik sigbaar nie.

“Kobus het uitgeswaai, maar die linkerkant van sy bakkie het die stilstaande voertuig getref,” vertel Callie van der Walt, Kobus se broer.

Hy het beheer verloor en die bakkie het gerol.

Kobus het Stiaan tussen die gras gekry en gesien hy is reeds dood. Coetzee was ook tussen die gras, maar het nog geleef. Kobus het mond-tot-mond toegepas.

“Die paramedici van Musina het Coetzee na Polokwane gehaas. Sowat 10km voor Polokwane is Coetzee weens sy beserings oorlede,” vertel Callie.

“Kobus is tans in die hospitaal met nekbeserings, hoofbeserings en beserings aan sy ribbes.

“Hy sal vir ‘n paar dae aansterk in die hospitaal waarna hy terug na Musina gaan om begrafnisreëlings te tref.”

Callie vertel dat die seuns vreeslik gemis gaan word.

“Hulle ouers het hulle vreeslik geniet, veral hul pa op die plaas. Hulle het baie spore op die plaas gelos. Dit is ‘n vreeslike skok vir ons almal.”

Die kinders laat hul ouers, ‘n ouer suster, oumas, ooms, tannies, niggies en nefies agter.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button